ADVERTISEMENT:

 

Een van Hoërskool Louis Trichardt se gemeenskapsprojekte het verlede week plaasgevind. Die skool se hoofmeisie, Larissa Venter (agter in die middel), het die projek geïnisieer en dan ook die kontantskenkings van R2 900 op 20 April oorhandig. Regs van Larissa is dr. Philip Venter, voorsitter van die Christelike Maatskaplike Raad, wat die helfte van die bedrag ontvang vir die CMR. Die ander helfte is in ontvangs geneem deur ds. Rudolph Botha (links), van die NG Kerk Soutpansberg-gemeente, om aan die Abraham Kriel Kinderhuis te gee. By hulle is van die Graad 11’s wat nie-bederfbare produkte versamel het.

Kinders wys hulle gee om al is hulle nog baie jonk

 

News  Date: 26 April 2012

 

“Dis jongmense wat al hierdie versamel het. Dit toon dat hulle empatie met die samelewing het, al is hulle nog jonk,”  het ds. Rudolph Botha gesê by die ontvangs van skenkings van Hoërskool Louis Trichardt vir die minder bevoorregtes in die gemeenskap.

Die skool se hoofmeisie, Larissa Venter, het hierdie gemeenskapsprojek geïnisieer en ook die kontantskenkings van R2 900 op 20 April oorhandig. Dr Philip Venter, voorsitter van die Christelike Maatskaplike Raad,  het die helfte van die bedrag ontvang vir die CMR. Die ander helfte is in ontvangs geneem deur ds. Botha, van die NG Kerk Soutpansberg-gemeente, om aan die Abraham Kriel Kinderhuis in Modimolle te gee.

Die jongmense het egter nie net kontant gebring nie, maar meer as drie bakkievragte goedere is weggery om tussen die plaaslike CMR en die kinderhuis verdeel te word.

Die verskillende grade was verantwoordelik daarvoor om sekere items gedurende die week van 16 tot 20 April te bring. Die Graad 8’s het die altyd-broodnodige toiletware versamel, die Graad 9’s het komberse vir die koue winter gebring, die Graad 10’s het klere wat nie meer gebruik word nie uit die kaste verwyder en skool toe gebring, die Graad 11’s het vir die magies gesorg en nie-bederfbare produkte gebring en die Graad 12’s het speelgoed versamel om kinderharte te verbly.

“Hierdie projek was ‘n goeie ding. Toe ek vir my sussie van agt jaar vra of ek van haar speelgoed kan gee vir kleintjies wat nie het nie, het sy gesê dis reg. As elkeen iets kleins gee, maak dit saam ‘n groot verskil,” het Graad 12-leerder Arno Venter gesê.

Graad 11 se projekhoof, Carin Barkhuizen, was baie bly dat die Graad 11’s hierdie keer so goed saamgewerk het, ten spyte van die kort kennisgewing. Sy wil hulle spesiaal bedank.

Al die grade se samewerking was ‘n riem onder die hart.

“Dit is wonderlik om te sien hoe die Triegies saamstaan om mense te help en in die gemeenskap terug te ploeg. Dis nou een ding van die Triegies - hulle weet hoe om saam te staan. Ek is verskriklik trots op die skool en om ‘n Triegie te wees,” sê Larissa. Sy bedank ook vir dr. Venter, wat as hoof koördineerder van die vervoer van die goedere optree. “Baie kinders kry self swaar. Ten spyte daarvan is hierdie groot insameling 'n bewys dat  daar steeds deernis is,” sê dr. Venter.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines