ADVERTISEMENT:

 

generiese foto

Belastingbetalers en waterwese praat oor krisis

 

News  Date: 26 April 2012

 

Belastingbetalers vanoor die land het in Bloemfontein met die Departement van Waterwese onderhandel oor die haglike situasie rakende onbevredigende waterdienste.

Die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging (SBBV) het verteenwoordiging gehad in die persoon van mnr. Jaap Kelder, aan wie die SBBV ‘n mandaat gegee het om namens hulle op te tree. Kelder is die voorsitter van die Nasionale Belastingbetalersunie (NBU).

Tydens die vergadering op 11 April in Bloemfontein het Kelder ‘n voorlegging gemaak van wat  inwoners kan doen om waterkomitees te laat instel deur die munisipaliteit.

Die Wet op Waterdienste, Wet 108 van 1997, omskryf veral in Artikel 63 wat gedoen kan word as die wateroutoriteit,  wat die Vhembe Distriksmunisipaliteit in Louis Trichardt se geval is, nie in staat is om water te lewer nie. In daardie geval  is die minister by magte om in te gryp en desnoods ook ‘n  waterkomitee aan te stel om die hele proses te hanteer.

Volgens die wet kan die minister die provinsie versoek om in te gryp as die wateroutoriteit nie sy funksies effektief uitvoer nie. As die provinsie in gebreke bly om in te gryp of wel ingryp, maar dit is nie effektief nie, kan die minister self die verantwoordelikheid vir die waterfunksie opneem om noodsaaklike nasionale standaarde te handhaaf. Indien die minister die funksie oorgeneem het, kan sy ‘n direktief aan die wateroutoriteit uitvaardig om sy funksie effektief uit te voer. As die water outoriteit dan nie sy funksies volgens die direktief uitvoer nie, kan die minister ‘n waterdienste komitee aanstel wat die waterfunksie gedeeltelik of in die geheel oorneem.

“In die geval van Louis Trichardt kan die SBBV byvoorbeeld, in samewerking met die verskillende groeperinge, die waterstelsel en rekening oorneem,” het Kelder gesê. “Ek dink dat die aanstel van ‘n  waterkomitee al manier is hoe ons saam insette sal kan lewer oor die bestuur van water,” het die SBBV voorsitter, me. Inga Gilfillan, verlede week gesê.

“Die watersituasie landswyd kan nie so aangaan nie. Daar moet die wil wees om dit te verbeter. Indien die minister nie wil ingryp nie, sal ons dit oorweeg om die minister hof toe te neem,” het Kelder gesê.

Een van die internasionale reperkussies van water wat met riool besmet is, raak die kopersmark vir die land se vrugte en groente.

“Die NBU kan ook verdere stappe neem en die regering  dreig dat hulle die besoedelde waterposisie aan oorsese kopers bekend gaan maak. Ons het hierdie moontlikheid  openlik met landbou-instellings bespreek. Dit sal beteken dat elke produsent dan sal moet bewys dat hy onbesoedelde water gebruik,” sê Kelder.

Die Departement van Waterwese het die NBU versoek om eers in gesprek met water- en omgewingsake Minister Edna Molewa te tree.

“Hulle verweer was dat daar al ‘n verbetering is. Ons sê ja, daar is verbetering, maar dit is nie goed genoeg nie. Ons wil die water reg hê, ook vir ons kinders se onthalwe. Voor ons met ‘n regsaksie kom, is ons volgende stap dan nou om met die minister persoonlik te vergader,” sê Kelder.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines