ADVERTISEMENT:

 

generic image

SBBV bekommerd oor waar water vandaan gaan kom

 

News  Date: 30 April 2012

 

Die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging (SBBV) het met kommer gereageer op CoAL of Africa se beoogde Makhado steenkoolmyn in die Soutpansberg gebied.

“Die SBBV is bekommerd oor CoAL se onsekerheid oor waar water vir hul projek vandaan sal kom,” het die voorsitter van die SBBV, me. Inga Gilfillan, in ‘n persverklaring gesê. Die gebied waar CoAL sy Makhado-myn tot stand wil bring, beskik nie oor groot waterbronne nie. Dié gebied is noord van die Soutpansberg en ongeveer 65km suidwes van Musina.  

“Daar word in twee fases aansoek gedoen vir die waterlisensie. Die implikasie is dat hulle tans nie weet waar die tweede fase (2015) se water vandaan gaan kom nie. Dit wek groot kommer,” sê Gilfillan, wat CoAL se vergadering by die Makhado skousaal op 18 April bygewoon het.  Volgens  Gilfillan het dit die SBBV gehinder dat die voorlegging by die watervergadering die heeltyd net van “moontlikhede” praat.

“Dit beteken dat daar geen watersekerheid vir hierdie projek is nie. Water moet gevind word uit bestaande bronne wat alreeds oorontgin is en wat nie genoeg is vir huidige landelike en landbougebruik is nie,” sê Gilfillan.

‘n Punt wat kommer wek is dat daar aangedui is dat daar samewerking met die Makhado Munisipaliteit sal wees om water aan die beoogde Makhado-myn te voorsien. MIG infrastruktuurfondse sal skynbaar hiervoor ingespan word.

Gilfillan sê dat Louis Trichardt skaars water op een dag per week het. “Daar kan nie eers  in die huidige behoeftes voorsien word nie, wat nog te sê van toekomstige uitbreidings en behoeftes?” Die ironie is dat daar tydens die vergadering geen water in die Makhado skouterrein se verwaarloosde toilette was nie en ook nêrens was waar iemand kon hande was nie …

Die toekomstige uitbreidings van CoAL se Chapudi-myn  wes van die N1 en die Mopane-myn, noord van die Makhado-myn, is verdere rede tot kommer vir die SBBV.

“Rofweg 78 plase word direk hierdeur geraak, maar die hele noordelike Soutpansberg word direk en indirek geraak.  Die geweldige impak op landbou, lewenskwaliteit maar veral ons waterbronne, is onrusbarend en hoogs ontstellend,” sê Gilfillan.

Die SBBV verwys na ‘n onlangse uitspraak van die konstitusionele hof wat moontlik die einde van dekades se spesiale behandeling vir die mynbousektor inlui.  “Die grond waarop gemyn sou word, was nie korrek gesoneer nie, soos die geval met die meeste myne.  Dit kom daarop neer dat sonering  waterbronne kan beskerm. Voor die uitspraak was dit ‘n gevestigde beginsel dat mynbou voorkeur kry bo ander gebruike van grond.  Myne het te lank aanvaar dat mynregte ander regsvereistes troef,” sê Gilfillan.

CoAL het hul aansoek vir ‘n mynregte lisensie reeds in Januarie 2011 ingedien. Intussen het CoAL in aangedui dat die bou van ‘n 22.5km spoorlyn om die Makhado steenkoolmyn projek met die bestaande spoorlyn tussen Musina en Louis Trichardt te verbind, voorgestel is. Dit sal CoAL R330 miljoen kos en CoAL sien dit as ‘n betekenisvolle bydrae tot Limpopo se infrastruktuur om die provinsie se mynboupotensiaal te bevorder.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines