

ADVERTISEMENT:

News Date: 22 November 2002
LOUIS TRICHARDT – 'n Bekende lid van Lugmagbasis Louis Trichardt, AO1 Piet Breytenbach (49), is Maandagoggend dood, nadat 'n ploftoestel in sy hande ontplof het op die Roodewal Bombaan buite Polokwane.
Die ontploffing het omstreeks 10:00 plaasgevind, terwyl AO1 Breytenbach en mede-lugmagpersoneel besig was met 'n opruimingsoperasie op die bombaan. Hulle het onder meer gesoek na oorblywende en moontlik skadelike ploftoestelle wat nie afgegaan het nie.
AO1 Breytenbach het klaarblyklik een van die ploftoestelle opgetel, waarna dit sekondes later in sy hande ontplof het. Mediese personeel, wat op die terrein was, het hom onmiddellik te hulp gesnel, terwyl 'n Oryx-helikopter van LMB Louis Trichardt ontbied is. AO1 Breytenbach is egter minute na die ontploffing oorlede, vanweë uiters ernstige borsbeserings. Die nuus van AO1 Breytenbach se dood kom presies 'n maand na die dood van nog 'n lid van LMB Louis Trichardt, kpl. Marlize Jessen (23), in 'n gru-ongeluk op die N1 tussen Polokwane en Louis Trichardt.
AO1 Breytenbach het in 1968 by die lugmag aangesluit en was vir die afgelope tien jaar werksaam op LMB Louis Trichardt as wapenmonteerder. Hy sal onthou word vir die positiewe gesindheid en passie ten opsigte van sy werk. In sy jonger dae het hy ook rugby gespeel vir Verre-Noord.
'n Semi-millitêre roudiens vir AO1 Breytenbach sal Vrydag (22ste) om 14:30 vanuit die Hervormde Kerk Pietersburg-gemeente gehou word. Hy word oorleef deur sy vrou, Hester, en twee dogters, Liezel (20) en Karien (18).

ADVERTISEMENT:
