

ADVERTISEMENT:

News Date: 15 November 2002
LOUIS TRICHARDT – 'n Gesteelde polisie dienspistool was betrokke by 'n mislukte kaping, waarin 'n jong inwoner van Levubu Maandag (11de) 'n noue ontkoming in Polokwane (Pietersburg) gehad het.
Die gewapende kaper het op die ou-end die slegste daarvan afgekom, maar het daarin geslaag om te ontsnap – gelukkig sonder die geldsak waarvoor hy bereid was om 'n lewe te neem.
Die twintigjarige Riaan du Toit van Levubu was in die stad waar hy gereeld groot vragte piesangs vanaf sy vader, mnr. At du Toit, se plaas aflewer, toe die gewapende kaper toegeslaan het.
Riaan was besig om met sy kontantsak in sy voertuig te klim, na 'n aflewering by 'n vrugtewinkel, toe 'n man skielik vanaf die passasierskant saam met hom in die voertuig klim. Die man het 'n 9mm-pistool teen sy kop gedruk, die geldsak gegryp en met 'n "Howzit", die sneller getrek. Die skoot het egter nie afgegaan nie.
Die kaper het verward met die geldsak uitgespring om te vlug en die deur toegeslaan. Riaan is deur die venster agter hom aan en het hom aan die baadjie beetgekry. Die voortvlugtende kaper het weer probeer skiet. Dié keer het die wapen gevuur, maar die skoot was mis aangesien Riaan net betyds die vuurwapen kon wegklap.
Riaan het hierna sy aanvaller "goed" bygekom en die wapen onskadelik gestel, terwyl dit nog in die skurk se besit was. 'n Bejaarde blanke omstander het intussen die vuurwapen afgeneem en dit in die winkel gaan bêre.
Die skurk het intussen verbete aan die geldsak vasgeklou, waarin 'n kontantbedrag van nagenoeg R30 000 was. Hy het dit net laat val na 'n hewige geveg.
"Ek het met hom teen 'n muur vasggehardloop, maar hy het bly klou en veg. Nadat hy die sak uiteindelik laat val het, het hy tussen die bene van die groot groep omstanders weggeskarrel. Ek het hom probeer agterna sit, maar die omstanders het my weg met hul bene versper. Dit was seker sy vriende," het Riaan gesê. Die misdadiger het ontvlug en is nog steeds op vrye voet.
Riaan sê die polisie was betreklik gou op die toneel nadat hulle geroep is, maar die rampokker was toe reeds weg. Intussen het die polisie vasgestel dat die wapen twee maande gelede van 'n polisiebeampte gesteel is.
"Dit is nou reeds die derde keer dat ek die teiken van rowers was," vertel Riaan.
By 'n vorige keer het hy saam met 'n veiligheidswag rowers wat agter op die sleepwa onder die seil tussen die vrag weggekruip het, verras. Die verstekelinge het op die vlug geslaan, terwyl hulle verskeie skote op Riaan en die veiligheidswag gevuur het. Hulle het ontvlug.
Tydens 'n besoek sowat twee maande gelede aan 'n aartappelplaas by Dendron, is hy van sowat R50 000 beroof, toe hy die voertuig vir 'n kort tydjie verlaat het sonder om die deur te sluit. By sy terugkoms het hy ontdek dat die geldsak op die plaas uit die voertuig gesteel is.
Na sy jongste noue ontkoming sê hy gemoedelik: "Miskien moet ek nou eers 'n bietjie vakansie gaan hou."

ADVERTISEMENT:
