ADVERTISEMENT:

 

Mnr. Kallie Röttcher by ‘n seksie van die heiningdraad op sy plaas waar diewe dag na dag sy ysterpale steel.

Boer knorrig oor ysterpale wat bly verdwyn

 

News  Date: 14 May 2012

 

Hy moes alreeds sy vark- en skaapboerdery staak weens aanhoudende veediefstal. Die nuutste is nou die ysterpale wat sy heiningdrade regop hou wat dag na dag voete kry.

“Bietjies, bietjies raak dit al hoe erger,” sê mnr. Kallie Röttcher, wat op een van die Rondebosch plase net buite Louis Trichardt boer. Hy verwys na letterlik kilometer-lange seksies van sy heiningdrade wat meer en meer platlê aangesien die ysterpale wat dit moet regop hou kronies gesteel word. Op dele van sy plaas is dit net bosse wat die heiningdraad nog stut.

“Dit is ‘n onheil!” sê Röttcher. Sy grootste vrees is sy beeste wat kan uitkom. Röttcher sê hy rapporteer die diefstalle nie eens meer aan die polisie nie. “Jy mors jou tyd. Dit gebeur in elk geval so gereeld,” sê hy.

Intussen spook Röttcher om die pale wat gesteel word, te vervang. Sowat ses weke gelede, sê hy, het hy by ‘n skrootmetaalonderneming sowat R9 000 se ysterpale gaan opkoop. Dit is juis dit wat hom ongelukkig maak. Hy meen die skrootmetaalondernemings skep ‘n mark vir die diewe om ontslae te raak van die ysterpale. “Wie weet, dalk is dit my eie ysterpale wat ek weer teruggekoop het,” sê Röttcher.

Maar is hierdie kritiek teenoor skrootmetaal ondernemings geregverdig? Mev. Aurial Visser van LTT Scrap Metal stem nie saam nie.

“As ‘n verkoper ‘n afskrif van sy ID, sy naam en adres kan voorsien, is daar niks wat ons verhoed om skrootmetaal by hom te koop nie,” sê Visser. Dit, verduidelik sy, is egter nie van toepassing op die aankoop van Telkom, Eskom, Spoornet of myne se koperkabels, wat streng volgens wet verbied word nie. Elke skrootmetaalonderneming, sê Visser, weet presies wat hulle mag aankoop en wat nie.

Visser sê dat sy begrip het vir mense soos Röttcher se frustrasie, maar meen dat dit baie moeilik vir hulle as onderneming is om te bepaal of die skrootmetaal wat hulle aankoop by iemand gesteel is. Dit is nog moeiliker as diefstalle nie by die polisie aangemeld word nie. In dié verband verduidelik sy dat hulle ‘n register hou van alle skrootmetaal wat aangekoop word en van wie dit aangekoop word. Dit is ook die prosedure by ander skrootmetaalondernemings.

“Die polisie kom kyk elke Woensdag en Vrydag na ons boeke [register] en die skrootmetaal op ons persele,” sê Visser. Sy meen dit sou dan maklik gewees het om ‘n verdagte te identifiseer, sou dit aan die lig kom dat van die metaal gesteel is. Daar is mos ‘n register van wie die metaal verkoop het.

“My raad aan Röttcher is om die diefstalle te rapporteer. Hy kan ook sy ysterpale merk, sodat dit maklik identifiseerbaar is,” sê Visser. Sy het verskeie ondernemings genoem wat reeds gebruik maak van dié merkprosedure.

“Ons weet nou al as metaal hier aankom met ‘n sekere merk op aan wie dit behoort. Dan bel ons die ondernemings om uit te vind of dit gesteel is. Baie ondernemings bel ons self en vra vir ons om op die uitkyk te wees vir sekere metale wat by hulle gesteel is,” sê Visser.

Visser het mense soos Röttcher uitgenooi om skrootmetaalondernemings te besoek en te kyk of hul gesteelde eiendom daar is. “Ek glo nie enige onderneming sal iemand weier om dit te doen nie,” sê Visser.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines