ADVERTISEMENT:

 

Is dit hoe reg in SA werk?

 

News  Date: 15 November 2002

 

LOUIS TRICHARDT – Reaksie van skok en verontwaardiging kring uit na bewerings dat die vermeende moordenaars van die 19-jarige Charl Bezuidenhout op borgtog vrygelaat is deur 'n landdros wat na bewering ook beveel het dat die geroofde geld wat deur die boosdoeners aan die polisie uitgewys is, aan die verdagtes oorhandig moet word.

In verskeie mediaberigte word genoem dat die vermeende gewapende rowers hul borgtog betaal het met die geld wat die polisie op hul aanwysing opgegrawe het tydens die ondersoek na die skietmoord.

Die SAPD se skakelbeamptes in Polokwane, Supt. Ronel Otto, het Woensdag bevestig dat beweerde ongerymdhede in die hantering van die borgaansoek na die kantoor van die Openbare Vervolger verwys is.

Die vader van oorlede Charl, mnr. Piet Bezuidenhout, het by navraag sy frustrasie uitgespreek oor die oënskynlike stramheid van die owerheid om die opvallende misstande in die saak aan te vat en reg te stel.

"Mense wat regstreeks met die moord verbind word, aan die polisie haarfyn beskryf het hoe hulle die gewapende rooftog en moord uitgevoer het en vir die polisie gaan wys het waar hulle die geld begrawe het, word toegelaat om met dieselfde geld hulle borgtog en hulle prokureur te betaal en word vrygelaat om nog mense te gaan beroof en vermoor," het mnr. Bezuidenhout gesê. "As dit is hoe die reg in Suid-Afrika gehanteer word, kan Suid-Afrika maar toemaak," het hy bygevoeg.

Hy het gesê die omstrede uitspraak was reeds op 25 September en presies niks is intussen aan die skreiende onreg verander nie.

Mnr. Bezuidenhout sê die ondersoekbeampte in die saak, Speurder Molele van Thohoyandou, deel die ontsteltenis oor die gebeure. Hy sê speurder Molele het hard gewerk in die ondersoek en kort na die moord reeds die eerste verdagtes aangekeer in sy intensiewe ondersoek wat tot sover as Tembisa in Gauteng gestrek het. Twee verdagtes is reeds in Mei in hegtenis geneem en voor die hof gebring, waarna hulle aangehou is hangende die voortgesette ondersoek.

Charl, 'n gewilde jong atleet van Louis Trichardt is op 4 April vanjaar in Ga-Ramakgopa tussen Louis Trichardt en Polokwane doodgeskiet, terwyl hy meel by winkels in die gebied afgelewer het. Terwyl hy met 'n groot bedrag geld by een van die winkels uitgestap het, het die gewapende rowers hom sonder meer geskiet en met nagenoeg R17 000 en verskeie tjeks gevlug.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines