

ADVERTISEMENT:

News Date: 18 May 2012
Die skielike sluiting van Stubbsstraat in Louis Trichardt waar dit met die verkeersirkel op die N1 aansluit, het menige padgebruiker die harnas in.
Die straat tussen Krugerstraat en die N1 is vroeër verlede week sonder enige taal of tyding vir verdere padwerke gesluit, sonder enige aanduiding dat ‘n ompad gevolg moet word. Dit het gelei tot grootskaalse verkeersopeenhopings by die reeds-besige Songozwistraat-kruising, veral oor spitstye.
“Die mense raak sommer ongeduldig met die stadige vloei van die verkeer. Party se liggaamstaal en handgebare wys hulle woede. Ons is almal haastig, maar hier kan ongelukke plaasvind,” het me. Elmarie O’Linsky Vrydag gesê. Sy is een van vele inwoners wat in die nuwe uitbreiding woon en nou ‘n groot draai moet ry om by die werk te kom.
Hetsy woedend of meer geduldig, feitlik elke inwoner word geraak deur dié sluiting. Dit is veral ouers wat in die oggend en middag hul kinders by die drie skole in die dorp moet af- en oplaai wat die ergste verontrief word.
“Jy het partykeer net soveel tyd tot jou beskikking. Hulle kon mos maar die helfte van die pad eers klaargemaak het. My vulstasie, Mount Fuji Motors, is op my Stubbsstraat roete en nou moet ek ‘n ander een soek,” sê me. Christine Venter.
Mr. John le Cornu, eienaar van die Mount Fuji Nissan motorhawe, sê dat die sluiting van Stubbsstraat beslis definitiewe negatiewe invloed op sy brandstofverkope het. “Die petrol is baie stiller. ‘n Mens kan dit duidelik aan die liters sien,” het Le Cornu Dinsdag gesê. Ander ondernemings in die Stubbsstraat omgewing ervaar ook ‘n afname in besigheid.
“Studente kry nie so baie geld nie en ‘n mens het vir jou petrol begroot. Nou gebruik ons baie meer pertrol met die ompad. Die gedeelte van Stubbsstraat naby die N1 is breed en het vier bane. Hulle kon maklik net twee bane toegemaak het,” sê mnr. PJ Strydom, assistent onderwyser en onderwysstudent.
“Waarom word daar nie van plaaslike padingenieurs gebruikgemaak nie? ‘n Plaaslike persoon sal lojaliteit aan die dag lê en daagliks die situasie monitor,” sê me. Marita Slabbert , wat in die nuwe uitbreiding woon.
Die situasie laat ook besoekers aan die dorp boos. “Van die besoekers van ander dorpe by Laerskool Louis Trichardt, tydens die ATKV redenaarskompetisie, het by my gekla,” sê me. Elzeth Olivier, onderwyser by die skool. Daar was 25 skole by dié kompetisie verteenwoordig.
Die naderende Kremetart fietswedren op 9 Junie gaan ook duisende besoekers lok.
“Dit is kritiek dat Stubbsstraat moet oop wees met die Kremetart,” het die voorsitter van die P&L Hardeware Fietsryklub, mnr. Stanley Thompson, gesê. Die Kremetart fietswedrenne vind oor vier weke plaas, met die N1-kruisings by Songozwi- en Rissikstraat wat vir groot gedeeltes van die dag op 9 Junie gesluit sal wees vir verkeer terwyl die fietsryers die wedrenne voltooi. Die enigste ander in- en uitgangsroete is Stubbsstraat.
Die Makhado Munisipaliteit het Dinsdag gesê dat Stubbsstraat betyds gereed sal wees. “Teen of voor 30 Mei sal die straat oop en operasioneel wees,” het die munisipale woordvoerder, mnr. Louis Bobodi, gesê.
Mnr. Pieter Meiring, van die raadgewende ingenieurs Dombo en Du Plessis, het op sy beurt gesê dat die kontrakteur (Fantique Trade) sy bes gaan probeer om al drie strate - Stubbs, Munnik en Anderson - op 5 Junie klaar te hê. Dit is duidelik dat iemand nie luister na opdragte nie. Meiring was teleurgesteld om te hoor dat die hele pad toe was, aangesien dit nie die opdrag aan die kontrakteur was nie. Die opdrag was dat die pad “in halfwydtes voltooi moet word” om verkeer op die ander baan toe te laat.
“Dit is nie goed dat julle weer oor dieselfde saak met ons moet praat nie,” het Meiring gesê. Hy het gemeld dat die deeltydse terreiningenieur onlangs siek was.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
