

ADVERTISEMENT:

News Date: 08 November 2002
LOUIS TRICHARDT - 'n Koperdief het Maandag (4de) baie skade en ongerieflike kragonderbrekings veroorsaak.
Al die kopergeleiers in Erasmusstraat is gesteel. Die gevolg was dat een transformator opgeblaas het.
"Die dief het gedink 'n mens kan maar net kopergeleiers wegneem sonder dat iets sal gebeur. Ons het sy horlosie en magnete daar gekry, maar die kwaaddoener self het weggekom," sê 'n woordvoerder van die Elektrisietiets-afdeling van die Makhado Munisipaliteit.
'n Algemene kragonderbreking van ongeveer 'n uur lank het die oggend plaasgevind, sodat die ondersoekspan van die Elektrisiteits-afdeling kon vasstel by watter substasie die probleem voorgekom het. Die fout is vinnig geïsoleer en die ander gebiede wat nie deur die fout geraak is nie, kon aangeskakel word.
Die gebiede wat die ergste geraak is, is Krugerstraat en Groblerstraat, met verskeie besighede soos Checkout, Shoprite en Fruit & Veg wat kwaai aan die pen gery het.
Die transformator wat opgeblaas is en waarvan die kabels gediskonnekteer is, funksioneer parallel saam met 'n ander transformator wat tydelik alleen kan funksioneer. Die verwagte hersteldatum van die transformator is onderhewig aan die assuransie ondersoeke.
Buiten vir die opsetlike skade aan die transformator, het Maandag se gure weer ook baie skade aan die buitestedelike netwerk aangerig en is die Elektrisiteits-afdeling druk besig met herstelwerk.

ADVERTISEMENT:
