

ADVERTISEMENT:

News Date: 08 November 2002
Die bekende Afrikaanse digter en uitgesproke kampvegter teen korrupsie en wanadministrasie by die Universiteit van Venda, Fanie Olivier, is pas toegelaat as 'n advokaat van die Hooggeregshof van Suid-Afrika.
Die toelating, by die Hooggeregshof in Pretoria, het plaasgevind op 29 Oktober 2002.
Prof Olivier was die afgelope paar jaar gereeld in die nuus as gevolg van die optrede van die Universiteit van Venda teen hom.
In Desember 1999 is hy afgedank deur die rektor, Gessler Nkondo, nadat Olivier in 'n interne e-pos brief gewys het op aspekte van wanadministrasie by die Universiteit. Hoewel die Hooggeregshof in Thohoyandou die besluit van die Rektor tersyde gestel het, het die Universiteit geweier om die hofbevel te implementeer.
In April 2001 het die Raad van die Universiteit prof. Olivier afgedank. Hierdie besluit is na die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie ("CCMA") vir arbitrasie verwys. Die Kommissie het bevind dat die afdanking onregmatig was, en beveel dat prof. Olivier ten volle in sy pos herstel moet word.
Die Universiteit het weer geweier om dit te doen, en aangevoer dat hulle die saak op hersiening na die Arbeidshof gaan neem. Dit sal waarskynlik nog etlike maande neem voordat die saak aangehoor kan word.
Prof. Olivier is nou reeds 34 maande sonder sy salaris.
Adv. Olivier het reeds die grade BA, BA Honneurs, MA, Litt Drs en DLitt verwerf, voordat hy hom vir 'n LLB by Unisa ingeskryf het. Hy beoog om hom veral met arbeidsreg, administratiefreg en aangeleenthede rondom die Grondwet te bemoei.

ADVERTISEMENT:
