

ADVERTISEMENT:

News Date: 08 November 2002
Die polisie op Louis Trichardt het lede van die publiek versoek om behulpsaam te wees met die opsporing van die vermeende moordenaars van 'n veiligheidswag op die dorp.
'n Dertigjarige veiligheidswag van LTT Sekuriteit, Eric Khakhu, is verlede Vrydagoggend omstreeks 01:45 koelbloedig doodgeskiet, terwyl hy diens gedoen het op die perseel van die onderneming Fire Fly, naby die Rissikstraat ingang uit die N1.
Volgens die polisie het ooggetuies gesien hoe twee onbekende mans mnr. Khakhu nader, terwyl hy besig was met voetpatrollie. Die ooggetuies beweer dat daar 'n kort, hewige woordewisseling was. Hulle het gehoor hoe die oorledene uitroep: "Don't kill me!" Kort daarna het hulle 'n skoot hoor knal en onmiddellik daarna het die twee onbekende mans weggehardloop.
Niemand is tot dusver in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
Die polisie het versoek dat enige persoon wat enige inligting kan verstrek oor die voorval, of wat 'n aanduiding kan gee van die identiteit van die boosdoeners, onmiddellik met hulle in verbinding moet kom.

ADVERTISEMENT:
