ADVERTISEMENT:

 

Reën bring welkome verligting vir boere

 

News  Date: 08 November 2002

 

LOUIS TRICHARDT – In vergelyking met die ooreenstemmende tyd verlede jaar, moes inwoners vir die eerste tien maande van 2002 met heelwat minder reën klaarkom.

Die Makhado Munisipaliteit se lesing vir die eerste tien maande van 2001, toon 'n reënval van 587,70mm aan. Die eerste tien maande van 2002 het egter nog net 199,70mm reën opgelewer.

Die goeie reënval die afgelope week (1 tot 6 November) het egter 'n sprankie hoop gebring. Gedurende dié tydperk is 38,4mm op die dorp gemeet, met 19,1mm wat Woensdagoggend by die munisipale meter gelees is. Die reënvalsyfer vir November verlede jaar was 178,20mm. Die enigste maand in 2001 waarin 'n hoër reënval aangeteken is, was Februarie met 259,50mm. Februarie 2002 het egter net 12,30 mm reën opgelewer.

Mnr. Dries Joubert van die Distriks Landbou-unie (DLU) sê dat daar boere is wat hierdie jaar nog geen noemenswaardige reën gehad het nie.

"'n Mens hoor oral van vrektes van wild, veral van koedoes. Een plaas het tot veertig vrektes onder die koedoes aangemeld," sê mnr. Joubert.

Hy verduidelik dat die boere voer aankoop en die probleem redelik suksesvol uitstel. Voer is egter baie duur en skaars en daar is nog nie bos wat bot nie. Wild- en beesboere is dus betreklik bekommerd.

In die Levubu-area val daar gewoonlik tussen 1 300mm en 1 400mm per jaar. Mnr. Joubert het in die twaalf maande voor Oktober vanjaar nog net 650mm reën gemeet. Hy sê dat die gewasboere suid van die berg nog water het vir besproeiing en vol moed is.

By Messina Proefplaas is 4,5mm reën vir die hele Oktober aangeteken. In sekere dele het dit egter beter gegaan, soos op Weipe wat tussen 70mm en 80mm gemeet het vir Oktober. Op 4 November is 7,5mm reën by die Messina Proefplaas gemeet.

Die reënvalsyfers vir Oktober soos verstrek deur die Weerkantoor in Polokwane is Mara 11,4mm, Bandelierkop 10,3mm, Louis Trichardt 41,0mm, Soekmekaar 33,6mm, Elim Hospitaal 42,0mm, Levubu 123,5mm, Alldays 37,0mm, Waterpoort 11,6mm, Tshipise 11,8mm, Punda Maria 42,1mm en Ponddrift 32,0mm.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines