ADVERTISEMENT:

 

Limpopo se reënvoorspelling vir Augustus, September en Oktober 2012. Volgens die Suid-Afrikaanse Weerburo is daar 'n verhoogde waarskynlikheid vir bo-normale reënval vir gedeeltes van Limpopo vanaf Augustus tot Oktober. Die groen gedeeltes se kanse op bo-normale reënval is tussen 33% en 40%, by die ligblou is die kanse op bo-normale reënval tussen 40% en 45% en by die donkerblou bo 50%. Grafiek verskaf en aangepas.

Droogte noop boere om te begin voer

 

News  Date: 28 May 2012

 

Met die reën wat hierdie jaar skaars was, het talle boere in die Soutpansberg reeds begin om hul wild te voer.

Volgens mnr. Piet le Roux van Mollevel Voerkrale voer hulle hul wild elke tweede dag.

“Ons voer die wild al vir twee maande, want  daar is nie meer weiding nie. Die beeste is gelukkig in ‘n goeie kondisie, want hulle word in die voerkrale gevoer,”  sê mnr. Boet Grobler van Mollevel.

Mnr. Theo Erasmus van die vulstasie op Bokmakierie sê dat dit agter die Soutpansberg baie droog is en nog droër nader aan die Zimbabwiese grens. “Ons het ‘n klein bietjie reën einde Januarie en begin Februarie gehad, maar by ons was dit 50% onder die normale reënval. Party plekke het Desember laas reën gehad,” sê Erasmus.

Die Mopaniebome het nog ‘n bietjie blare aan, maar die gras is gedaan. Die blare begin ook nou afval. Wildvoer is dus die enigste opsie, maar dit kom teen ‘n prys. “Ek het reeds R100 000 se voer moes aankoop, maar die ouens met die groot wildplase koop nog baie meer. Ek reken dat op ‘n plaas van 2 000 hektaar dit ongeveer R200 000 sal kos om die wild vir drie maande te voer,” sê mnr. Nic Fourie van Sierra Wildplaas.

Bloubuffelgras kos R1 200 per ton en vir lusern moet R2 000 per ton uitgehaal word.

“Ons jag maar soveel as moontlik en sal weer die kudde opbou wanneer dit beter gaan,” sê mnr. Chris van der Westhuizen van Mopani Game Safaris met 1 100ha, waar daar al van Januarie of Februarie gevoer word. “Ons het net 80mm reën vir die seisoen gemeet en dit is dan al die klein bietjies bymekaargetel,” sê Van der Westhuizen.

Volgens mnr. Andries Kruger van die Suid-Afrikaanse Weerburo was die drie maande vanaf Februarie tot April vanjaar rondom Musina uitermatig droog, so ook die oostelike gedeeltes naby die Kruger Nasionale Park.

Die weerburo se wetenskaplike wat navorsing doen op weervoorspelling, mnr. Cobus Olivier, het na Limpopo se reënvoorspelling vir Augustus, September en Oktober gekyk. “Gedeeltes van Limpopo het ‘n verhoogde waarskynlikheid van bo-normale reënval,” lui sy verslag. 

Maar waarom die huidige droë toestande in Limpopo?

Die weerburo sê dat die ENSO (El Niño/La Niña - Southern Oscillation) die faktor is wat die somerreënval in Suid-Afrika die meeste beïnvloed.  ENSO kan ook meer akkuraat voorspel word.

ENSO is ‘n klimaatpatroon wat rofweg elke vyf jaar oor die oostelike deel van die tropiese Stille Oseaan voorkom, waar verwarming El Niño en verkoeling La Niña”genoem word. ‘n Droë seisoen is as gevolg van El Nino (Spaans vir “klein seuntjie”) wat verwys na die Christuskind, omdat periodieke verwarming in die Stille Oseaan naby Suid-Amerika gewoonlik met Kersfees opgemerk word. Dit gaan gepaard met ‘n hoë lugdruk in die westelike deel van die tropiese  Stille Oseaan  Die teenoorgestelde toestande kom voor by  La Nina ("klein dogtertjie") en veroorsaak nat toestande. Op die oomblik is daar ‘n neutrale ENSO en dit sal vir die volgende ses maande so bly.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines