

ADVERTISEMENT:

News Date: 28 May 2012
Om vir 46 jaar lank te werk vir jou pensioenuitbetaling en dan bykans die helfte daarvan in een dag te verloor, is ‘n bitter pil om te sluk. As jy uit jou geld bedrieg is weens jou vertroue in “staatsamptenare”, is dit nog erger.
Personeel van Laerskool Louis Trichardt het hierdie week met skok reageer op die nuus dat so ‘n onsmaaklikheid een van hul getroue werknemers te beurt geval het. Die werknemer, wat nie geïdentifiseer wil word nie, het ná sy aftrede weer by die skool begin werk in ‘n beheerraadspos. Sy pensioen is die vorige week in sy bankrekening inbetaal.
Om ongeveer 11:00 op 17 Mei het twee goedgeklede vroue by die skool opgedaag en hulle voorgedoen as departementele amptenare. Mnr. Greg Stewart onthou dat albei redelik geset was en dat die een goed Afrikaans kon praat.
Hulle het vir die slagoffer gesê dat daar nog ‘n gedeelte van sy pensioen is wat die departement hom nog skuld en dat hy saam met hulle na Polokwane moet ry om daarvoor te gaan teken. Hulle het ‘n “amptelike” dokument getoon met sy naam, identiteitsnommer en huisadres daarop. Hulle het gesê dat daar nog ander mense ook is wat gaan.
By die spoggerige wit motor gekom, het hy gesien dat daar reeds twee mans in die kar sit. Op pad het hulle sy selfoon gevra en dit skynbaar bewonder. Intussen het hulle ongesiens die SIM-kaart verwyder en die foon teruggegee.
Naby Polokwane het hulle gesê dat hulle eers sal moet bank toe gaan, sodat hy kan geld trek om te wys daar is aktiwiteit op sy bankrekening. In daardie stadium het die slagoffer al ongemaklik begin voel, maar uit vrees besluit om maar eerder saam te speel.
By ABSA Bank in Polokwane het die een vrou ‘n ontrekkingsvormpie ingevul en hom aangesê om dit te onderteken. Nadat die geld getrek is, het een van die mans die geld in ‘n sak gesit en almal het soos blits verdwyn.
“Ek is dankbaar dat ek met my lewe daarvan afgekom het,” het die slagoffer gesê. Hy het gelukkig geld vir ‘n huurmotor gehad om terug te kom.
“Ons was so bekommerd en magteloos, want ons kon hom nie kontak nie. Ons het intussen agtergekom dat hy in lewensgevaar kan wees, want iemand het sy dogter gebel en gesê dat ‘n groot bedrag uit haar pa se bankrekening onttrek is. Die dogter het aanbeveel dat haar pa se suster, wat ook by die skool werk, geskakel word. Die suster het onraad gemerk en ons in kennis gestel. Ons het inderhaas teen ongeveer 15:00 sy bankrekening gesluit en ‘n saak by die polisie oopgemaak,” het die skoolhoof, mnr. Louis Linde, gesê.
Groot was hul vreugde toe die slagoffer se suster en me. Irene Adendorff om 16:30 met die motor ry en haar broer kry waar hy langs die pad stap. Hy was erg getraumatiseerd. “Om te dink jy werk jou lewe lank om dit in ‘n oogwink te verloor. Ek ken hom al 24 jaar lank. Hy het vier skoolhoofde geken,” sê Adendorff, wat hom die volgende dag by die bank en die aanklagkantoor bygestaan het.
Kaptein Maano Sadiki, woordvoerder van die Makhado SAPS, het ná die voorval pensioenarisse gemaan om baie versigtig te wees en eers ondersoek in te stel na mense wat hulle sogenaamd wil bystaan. Sadiki het gesê dat hulle vroeër vanjaar ook ‘n pensioen bedrogsaak gehad het, wat hulle by die handelsmisdaadeenheid aangegee het, maar dat daar nog geen arrestasies gemaak is nie.
Kolonel Ronel Otto, provinsiale polisiewoordvoerder, het op 22 Mei gesê dat die handelsmisdaadeenheid in Polokwane nog nie van die jongste voorval bewus is nie. In April het daar drie gevalle in Modimolle met die identiese modus operandi voorgekom. (www.sowetanlive.co.za).
Intussen neem die prefekte die inisiatief om, in samewerking met die ouers, onderwysers en verskeie besighede, ‘n fonds te stig om die slagoffer te help. Diegene wat kontant wil bydra, kan 'n koevertjie gemerk “Triegie Leiers 2012 Inisiatief” na die skool bring. Dit sal ook die verwysing wees vir elektroniese oorbetalings. In dié verband kan die skool geskakel word by 015 516 5151 of Ralda van Wyk by 082 854 5910.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
