

ADVERTISEMENT:

News Date: 04 June 2012
Die terreiningenieur op die huidige projek om strate in Makhado te teer, het bedank.
“Ek verstaan julle frustrasies. Ek skaam my om daar te kom. Ek wil ‘n projek vat en daarmee loop en dit klaarmaak,” het die ingenieur, wat nie geïdentifiseer wil word nie, Maandag gesê. Hy het bedank van die raadgewende ingenieursfirma, Dombo en Du Plessis. Volgens hom moes die kontrakteur, Fantique Trade, vanaf 25 Mei begin om boetes te betaal omdat die projek nie klaar is nie.
Tans word daar aan Stubbs-, Munnik- en Andersonstraat gewerk, met ander gedeeltes wat nog volg. Inwoners is ontstoke oor die manier waarop padwerke in Stubbsstraat, ‘n hoof ingangsroete vanaf die N1, aangepak is en gedoen word. In plaas daarvan dat een baan oopgehou is vir verkeer, soos wat die opdrag van die raadgewende ingenieurs was, is die pad net summier gesluit, met gevolglike opeenhoping van verkeer by die ander ingangsroetes. By die Munnik-/Bredastraat-kruising is ‘n skielike verskil in hoogtes van padoppervlakte van bykans 20cm wat nog nie reggemaak is of aangedui word nie. ‘n Gewone voertuig kan skaars daaroor ry. Die groot vraag in inwoners se gemoed is waarom Andersonstraat nie eers klaargemaak is, voordat daar met die ander strate begin is nie?
Die voormalige terreiningenieur het gesê dat interne projekbestuur, ook in terme van organisering, koördinering en reëlings, tekort skiet. Hy het verduidelik dat as ‘n kontrakteur aan die begin van ‘n projek nie sy verpligtinge nakom nie, hy nog van die projek afgehaal kan word, maar dat dit baie moeilik is om te doen nader aan die einde van ‘n projek.
Intussen wonder inwoners of Stubbsstraat klaar sal wees voor die gewilde Kremetart Fietswedren op 9 Junie. “Miskien betyds vir volgende jaar se Kremetart,” was die skalkse opmerking van mnr. Jas Brummer, wat in Stubbsstraat woon.
Mnr. Pieter Meiring, Dombo en Du Plessis se ingenieur, was twee keer die afgelope naweek op die terrein. “Dit lyk of dinge in plek is, sodat dit klaar sal wees met julle fietswedren. Binne twee weke behoort die verkeer te loop. Teen Donderdag kan Polokwane Surfacing – dit is dieselfde plek as Hillary Konstruksies - moontlik al die seëlwerk kom doen. Stubbsstraat sal eerste geseël word,” het Meiring Maandag gesê.
Meiring het gesê dat die gat in Munnikstraat aangespreek moet word terwyl Hillary daar is en hy was optimisties oor Andersonstraat. Hy het geskat dat daar dalk nog ‘n dag en ‘n half se werk aan Anderson is en ‘n halwe dag se werk aan Munnikstraat.
“Binne twee weke behoort alles so na as moontlik aan klaar te wees. As daar iets is wat uitstaande sal wees, sal dit die randstene wees. Die verf van die strate kan ook nie dadelik geskied nie, want die vlugtige stowwe op die pad moet eers verdamp voordat daar geverf kan word,” het Meiring gesê.
Meiring het bevestig dat die kontrakteur se eerste twee betalings langer as 70 dae uitstaande was. “Die laaste twee sertifikate was binne die voorgeskrewe tydperk van 30 dae betaal,” het Meiring gesê.
Mnr. Bennie Nchube van Fantique Trade het Dinsdag gesê dat hy geensins kommentaar wil lewer op enige vrae nie, aangesien nie hy nie, maar sy broer, die eienaar van die onderneming is. Hy het ook geweier om die eienaar se kontakbesonderhede te verskaf.
Intussen is daar nog strate op die lys, insluitend Waterbessie, Protea en Eland. Meiring het gesê dat Industriaweg ‘n dik laag asfalt moet kry.
“Die Makhado Munisipaliteit het egter gevra dat ons die gedeeltes van Devenish en Grobler moet terughou tot na die Kremetart,” het Meiring gesê.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
