ADVERTISEMENT:

 

Lopende water deesdae net ´n versugting

 

News  Date: 04 June 2012

 

Vir die meeste mense in Makhado het lopende water in die afgelope weke net ‘n versugting geword.

Die Zoutpansberger het verlede week weereens berig oor die dorp se krane wat vir dae aaneen droog geloop het. In daardie stadium was inwoners van Tshikota al drie weke sonder water.

Die rede vir die droë krane, het die Vhembe Distriksmunisipaliteit verduidelik, is weens ‘n instandhoudingsprogram waartydens al die dorp se reservoirs leeggepomp en skoongemaak word. 

Verlede week Donderdag is daar ook inderdaad munisipale werkers by die Mowkop reservoir opgemerk, druk besig om modderslik uit die reservoir te vee. Volgens een van die werkers het hulle kniediep in die slik gestaan, nadat die water uit die reservoir gepomp is. Daarna het hulle al die oormaat slik gedreineer, voordat hulle die hele binnekant van die reservoir met chemikalieë gewas het.

Buiten die Mowkop reservoir wat skoongemaak is, sou drie Albasinidam pompstasies en die reservoirs in uitbreiding 7, by die treinkruising, asook dié by die provinsiale hospitaal en in Barnardstraat ook skoongemaak word. 

Teen die naweek was inwoners al raadop met die watersituasie in die dorp. Groot gedeeltes het Sondag vir feitlik die hele dag sonder ‘n enkele druppel water gesit. Maandag het die water bietjies-bietjies teruggekom, maar teen Dinsdag was die water weer af.

Beide die woordvoerder van die Vhembe en die Makhado Munisipaliteit kon na talle pogings nie bereik word vir kommentaar nie. Daar kon wel vasgestel word dat die skoonmaakprogram suksesvol afgehandel is. Die aanvraag in die dorp is glo egter te groot en die munisipaliteit het teen Dinsdagmiddag gespartel om al die reservoirs weer vol te kry.

Daar kon nie met duidelikheid gesê word wanneer die dorp weer ‘n “normale” watervoorsiening sal hê nie. ‘n Betroubare bron na aan die projek het die hoop uitgespreek dat die dorp weer teen Woensdagmiddag water sou hê.

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines