

ADVERTISEMENT:

News Date: 01 November 2002
LOUIS TRICHARDT – Die Nasionale Padagentskap (NPA), die agentskap verantwoordelik vir die opgradering van die N1-noord, het die afgelope week gereageer op klagtes dat konstruksiewerk aan die pad teen 'n slakkepas plaasvind.
Die eerste twee fases van opgradering behels die seksie van die N1 vanaf Louis Trichardt tot by Masekwaspoort en vanaf Masekwaspoort tot by die 70 kilometer merk na Musina. Volgens aanvanklike beplanning sou dié seksies van die N1 onderskeidelik teen Februarie 2003 en Desember vanjaar klaar gewees het. Wat die seksie vanaf die 70 kilometer merk tot in Musina betref, sal die projek volgens huidige beplanning eers in Junie 2004 voltooi word.
Sedert die projek in Junie vanjaar 'n aanvang geneem het, het ongelukke op dié seksie van die N1 die hoogte ingeskiet. Talle inwoners is van mening dat frustrasie ten opsigte van die lang wagperiodes en 'n tekort aan ompaaie die rede hiervoor is. Baie van die ongelukke het of by 'n verlegging of in 'n verlegging plaasgevind.
Met die Desembervakansie om die draai, verwag nood- en reddingspersoneel ook 'n verdere styging in die hoeveelheid ongelukke. Hul grootste kopseer is egter die drastiese verhoging in verkeersvloei wat verwag word met die sonsverduistering op 4 Desember wanneer derduisende besoekers en uitlanders op Musina sal toesak.
Volgens mnr. Hennie Kotzé, 'n senior verteenwoordiger van die NPA, is die rede vir die later voltooiing van die eerste twee fases van die projek te danke aan addisionele werk wat by die aanvanklike kontrakte gevoeg. Dit behels die aanbring van 30 kilometer se klim- en verbygaanlane wat verspreid oor dié gedeeltes gebou sal word, asook 'n wyer padoppervlak. Mnr. Kotzé sê dit is gedoen om groter rygerief vir die padgebruiker te verskaf.
Mnr. Kotzé het dit duidelik gestel dat die akkommodasie van verkeer en die belange van die padgebruiker tydens konstruksiewerk baie belangrik is vir die agentskap. Die beplanning daarvan, sê hy, maak 'n groot deel uit van die ontwerpfase van die projek en verskeie faktore word oorweeg voordat daar op 'n bepaalde vorm van akkommodasie besluit word.
Mnr. Kotzé het verduidelik dat ompaaie nie altyd geregverdig kan word nie as verkeersvolumes laag is of die bepaalde konstruksietegniek dit nie vereis nie. Die padreserwe op hierdie gedeelte van die N1 is klaarblyklik te smal om 'n ompad daarin te pas en om buite die padreserwe te werk verg 'n volwaardige omgewingsimpakstudie. Die kanse dat die Departement van Omgewingsake toestemming sou gee vir ompaaie in die bergseksie, sê mnr. Kotzé, is baie skraal weens die groot impak wat dit op die omgewing sou hê.
Mnr. Kotzé sê dat konstruksiewerk in die berg van so 'n aard is dat 'n bepaalde seksie pad vir ongeveer twee weke aan gewerk word, waarna die proses aanskuif. Dit, sê hy, is dus nie koste effektief om 'n ompad vir slegs twee weke te bou nie, veral vanweë die hoë koste van opvullings en die groot deurgrawings wat gemaak moet word. Daar is egter volgens hom verskeie maatreëls wat getref word deur seksie lengtes te beperk tot ongeveer een kilometer en addisionele vlagmanne by konstruksiegedeeltes te verskaf. Die kontrakteur word ook beboet indien hy nie aan die gestelde vereistes vir die akkommodasie van verkeer voldoen nie. Die koste verbonde aan die akkommodasie van verkeer, sê mnr. Kotzé, beloop ongeveer 15% van die kontrakwaarde. Wat die laaste gedeelte van die pad, vanaf die 70 kilometer merk tot in Musina, sal daar wel van ompaaie gebruik gemaak, omdat die pad herbou moet word en die konstruksietegniek dit vereis. Die koste verbonde aan die bou van ompaaie beloop sowat R5 miljoen, terwyl verdere kostes aangegaan sal word vir die tydelike onteiening van privaat eiendom. Daarbenewens, sê mnr. Kotzé, sal kremetartbome wat deur die bou van die ompaaie geraak word ook teen 'n koste verplant moet word.
Volgens mnr. Kotzé toon rekords wat deur die ingenieurs op die projek gehou word dat daar sedert die begin van die projek vanaf Louis Trichardt tot Masekwaspoort slegs sewe ongelukke was wat verband gehou het met die konstruksiewerk sonder enige lewensverlies. Hy het ook aangedui dat daar geen konstruksiewerk gedurende die week van 30 November tot 8 Desember, wanneer die sonsverduistering plaasvind, sal wees nie. Die pad sal oop wees vir tweerigting verkeer. Daar saal ook geen fisiese werk plaasvind tydens die hele skoolvakansie in Desember nie.

ADVERTISEMENT:
