ADVERTISEMENT:

 

Mnr. Johan Kirsten, eienaar van Ocean Basket in Makhado. Hy en drie van sy bestuurders was Sondagaand die teiken van gewapende rowers.

Personeel met messe toegetakel tydens roof

 

News  Date: 04 June 2012

 

“Ek het besef die man met die geweer is in beheer en jy moet niks roekeloos doen nie. Selfs na die roof was ek kalm. Ek het eers Maandag gehuil ...”

So het mnr. Johan Kirsten, eienaar van Ocean Basket in Makhado, Woensdag gesê, nadat hy en drie van sy bestuurders Sondagaand ‘n gewapende roof oorleef het. Hulle het egter nie ongedeerd daarvan afgekom nie.

Johan vertel dat hy en sy drie bestuurders, sy dogter Marette Louw, Marcel Pearce en Azwianewi Mushome, kort na toemaaktyd om 22:00 gou ‘n klein bestuursvergadering gehad het. Hy het  daarna vir Azwianewi, wat daar naby woon, gaan oopsluit sodat sy kon huistoe gaan. Oomblikke later het hulle haar bloedstollend hoor gil.

Uit die donker het twee mans met klapmusse gekom, een gewapen met ‘n pistool en die ander met ‘n mes, wat vir Johan, Azwianewi, Marette en Marcel terug geforseer het na die kantoor waar die kontant gehou word. Kort daarna het ‘n derde aanvaller by sy makkers aangesluit.

Die vier is beveel om op hul mae op die grond te lê en Johan se hande is agter sy rug vasgebind. “Hulle was baie aggressief. Ons is geskop as ons nie vinnig genoeg reageer het nie,” vertel Johan. Hulle is ook elke keer geskop as hulle opkyk.

Volgens Johan wou die rowers twee dinge hê – geld en die opname binne die sekuriteitskamera.

“Hulle het die hele tyd geskreeu 'Where is the money!’ As jy nie dadelik geantwoord het ‘There’ nie, het hulle geskreeu ‘Shut up, we’ll kill you!’” sê Johan.

Die rowers het Marette aan haar hare rondgepluk. Sy was die een wat die geld vir hulle bymekaar moes kry. Sy het verskeie erge steekwonde in haar rug en skouer opgedoen, soos wat die rowers haar forseer het om vinniger te maak.

“Op die ou end het hulle die naweek se geld, die kleinkasgeld, die personeel se stokvelgeld, sleutels en selfone gevat,” sê Johan.

Die vier se nagmerrie-ondervinding het sowat 20 minute geduur. Marcel het ‘n ernstige steekwond aan die regterbeen opgedoen kort voor die rowers gevlug het, toe hulle hom ook wou vasbind en hy nie vinnig genoeg gereageer het nie. Hy het verskriklik gebloei, maar gelukkig is die hoofslagaar nie getref nie.

“Ek het die hele tyd gebid ... vir ons lewens en vir rustigheid. Die aanvallers het mettertyd rustiger geraak,” sê Johan. Die rowers het Johan-hulle met sy eie sleutel binne die winkel toegesluit en gevlug. ‘n Bebloede Marcel kon homself loswikkel, waarna hy Johan bevry het. Hulp is kort daarna ontbied.

“In ‘n mate was ons voorberei daarop. In vorige bestuursvergaderings het ons sulke situasies bespreek met die opdrag om bloot vir die rowers te gee wat hulle wil hê. Mens is egter nooit voorberei vir die brutaliteit wat daarmee gepaard gaan nie,” sê Johan. Hy, Marette en Marcel moes almal mediese behandeling vir steekwonde ontvang. In Desember verlede jaar is Marette voor haar huis oorrompel, aangerand en beroof. Johan sê sy verwerk die aanval maar moeilik en almal van hulle sal moet gaan vir berading.

“Die Here was vir ons ongelooflik goed dat ons nie erger seergekry het nie. Die grootste besering was maar binne die kop,” sê Johan.

Ocean Basket is in Maart deur inbrekers geteiken. Johan bly egter optimisties om met die besigheid aan te gaan, selfs na Sondagaand se drama. “Dit is maar deel van die risiko,” sê hy. Hy was ongelooflik dankbaar vir die ondersteuning wat hulle uit die gemeenskap ontvang het ná die aanval.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines