ADVERTISEMENT:

 

Telkom-rekenings laat die oë behoorlik rek

 

News  Date: 01 November 2002

 

LOUIS TRICHARDT – Klagtes in verband met buitensporige hoë telefoonrekenings neem al hoe meer toe. Dikwels kan die kliënt ook bewys dat die oproepe nie vanaf sy of haar eie telefoon gemaak is nie.

Een so 'n klagte was dié van oom Hennie Terblanche wie se rekening van net onder die R4 000 hom laat wonder het of sy oë hom dalk bedrieg.

Oom Hennie, van die plaas Rondebosch, se telefoonrekening by Telkom wissel gewoonlik so tussen R130 en R240, die huur en die oproepe ingesluit. 'n Rekening van R3 946.25 vir die tydperk 18 September tot 17 Oktober het hom egter hierdie slag ingewag.

Daar verskyn 37 oproepe na Indië op sy rekening, drie na Pakistan, twee na die Demokratiese Republiek van Kongo en een elk na Sri Lanka, Lesotho en Switserland.

"Ek wonder of dit nie 'n smokkelsindikaat is wat op my telefoonlyn ingekom het nie," lag oom Hennie. Op 'n ernstiger noot reken oom Hennie dat die mense wat hierdie oproepe maak, baie uitgeslape is.

Twee maande gelede het oom Hennie se seun, Rikus, wat op dieselfde plaas boer, ook 'n probleem ondervind met internasionale oproepe vanaf sy landlyn. Sy rekening was skielik R1 100 in plaas van die normale R300. Toe hy dit by Telkom gaan regstel, het hy van sy bure daar raakgeloop wat oor dieselfde probleem kla. Rikus se rekening was toe normaal vir die volgende maand, maar Oktobermaand se rekening het weer 'n verrassing ingehou. Hierdie keer was daar 'n aantal oproepe na selfone gemaak op 6 Oktober, die dag toe hulle telefoon buite werking was.

Die internasionale oproepe en binnelandse selfoonoproepe wat op oom Hennie se rekening verskyn, was almal ook op 6 Oktober gemaak. Daardie dag was oom Hennie se telefoon ook buite werking en het hy dit aangemeld as sulks.

Oom Hennie hou noukeurig boek van elke enkele oproep wat vanaf sy telefoon gemaak word. Telkom ken dus al vir oom Hennie as hy met sy lêers daar opdaag. Hy sê dat hy nog nooit probleme met Telkom ondervind het met die regstelling van sy rekening nie.

"Ek het Telkom versoek om my telefoonlyn voortaan te blokkeer vir alle internasionale oproepe. Verder beplan ons ook om die 'man hole' waar die telefoonkabels bymekaarkom, dop te hou," aldus oom Hennie.

Telkom se senior bestuurder van Kommunikasie, me. Ingrid Krige het vandeesweek gesê dat hulle nog nie van hierdie spesifieke gevalle verwittig is nie. Sy het kliënte wat die slagoffers van netwerk bedrog is, aangemoedig om dit te rapporteer by Telkom se 24-uur deel oproep nommer 0860 124 000. Telkom het ook 'n konfidensiële diens aan lede van die publiek vir Telkom-verwante misdaad. Die lid van die publiek wat die misdadiger aanmeld, kan anoniem bly.

Telkom raai kliënte aan om 10210 (Rekening Navrae) te kontak wanneer hulle oproepe op hul rekening identifiseer wat nie deur hulself, vriende of familie vanaf hulle telefoon gemaak is nie. 'n Dispuut sal dan aanhangig gemaak word namens die kliënt en die saak sal ondersoek word. Indien bewyse gevind word dat daar met 'n kliënt se lyn gepeuter is, sal Telkom die kliënt se rekening krediteer met die bedrag gelykstaande aan die waarde van die ongemagtigde oproepe. Telkom versoek kliënte in so 'n situasie om steeds betyds te betaal vir die oproepe wat hulle gemaak het.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines