ADVERTISEMENT:

 

Strawwe waterbeperkings is skokkend, kla inwoners

 

News  Date: 01 November 2002

 

LOUIS TRICHARDT – Die Makhado Munisipaliteit se besluit om skielik strawwe waterbeperkings in te stel, het sedert verlede Donderdag verskeie inwoners se bloeddruk behoorlik opgejaag.

'n Nota in die posbus was die enigste vooraf waarskuwing wat inwoners ontvang het ten opsigte van die strawwe waterbeperkings wat onmiddellik van krag sou wees. Die Raad se skielik besluit het ook baie inwoners, wat nie oor posbusse beskik nie, in die war gelaat oor waarom dit nodig sou wees om waterbesparing toe te pas, aangesien die Albasinidam steeds oor die 80% vol is. Hul optrede is as skokkend en onredelik beskryf.

In reaksie op die aangeleentheid het mnr. Gideon van Zyl van die Makhado Munisipaliteit se Siviele Ingenieurs-afdeling Dinsdag verduidelik dat sowat 50% van die daaglikse waterverbruik afkomstig is van die Albasinidam, terwyl die res vanuit die Raad se boorgate voorsien word. Die droë warm weer en ondergemiddelde reënvalsyfer, sê hy, het egter teweeg gebring dat die Raad se boorgate dramaties gedaal het wat veroorsaak het dat addisionele druk op die watersuiweringsaanleg by die Albasinidam geplaas is om in verbruikers se daaglikse behoeftes te voorsien. Op hede verskaf die aanleg sowat 80 liters per sekondes, alhoewel dit opgradeer kan word na 120 liters per sekonde.

Met betrekking tot bogenoemde, sê mnr. Van Zyl, is die Raad tans besig met die opgradering van die watersuiweringsaanleg by die dam en tot met voltooiing sal inwoners dus spaarsaam moet werk met hul water. Die proses sal sowat vier weke duur en by voltooiing sal 'n verdere week benodig word om te verseker dat die aanleg korrek funksioneer.

Buiten vir die opgradering van die watersuiweringaanleg, sê mnr. Van Zyl, gaan die Raad ook hul boorgate op die plaas Nooitgedacht met 'n verdere vyf gate uitbrei. Die projek maak voorsiening vir die toetsing, toerusting en verskaffing van elektrisiteit aan die boorgate. Die konstruksie van 'n 3,5 kilometer hoof pyplyn vorm ook deel van die projek en volgens huidige beplanning sal die sisteem in bedryf wees voor 30 November vanjaar met konstruksie wat vanaf 28 Oktober tot 25 November sal plaasvind.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines