

ADVERTISEMENT:

News Date: 11 June 2012
Hoe is dit moontlik dat sommige mense se kragrekenings kan oploop vir maande en ander se krag vinnig afgesny word?
Dit is die vraag in die gemoed van inwoners wat hul rekenings van die Makhado Munisipaliteit getrou betaal.
As deel van sy dagtaak kom mnr. Laurie Bannatyne gereeld af op munisipale rekenings wat reeds tussen 90 of 120 dae agterstallig is. “Wat goed is vir jou, is goed vir my. As my rekening van 30 dae na 60 dae oorloop, word my krag summier afgesny. Waar is die regverdigheid?” vra Bannatyne.
“Ek sien hierdie bedrae wat oploop. Eenkeer het ek ‘n rekening gesien wat R80 000 agterstallig is,” sê Bannatyne. Ander rekeninge se bedrae is minder. Een so ‘n voorbeeld van ‘n rekening gedateer 20 April wat op R20 000 staan en wat tot op 90 dae opgeloop het, is na die munisipaliteit verwys.
“As ek ‘n vraag vra oor rekeninge wat vir maande lank oploop, is ek nie besig met diskriminasie nie. As ek sien my familielid het so ‘n agterstallige rekening, sal ek egter dadelik wonder wat op daardie rekening aangaan,” sê Bannatyne.
Die munisipale woordvoerder, mnr. Louis Bobodi, het gesê dat in hierdie spesifieke geval daar ‘n “tegniese probleem” was. “Ons het dit sedertdien agtergekom en uitgesorteer en ons is in die proses om die elektrisiteit te sny. Ons het laasweek daarmee begin,” het Bobodi Dinsdag gesê. Hy het bevestig dat elektrisiteitstoevoer "na 30 dae" afgesny word.
Bobodi het egter nie die vraag beantwoord oor baie soortgelyke agterstallige rekeninge en die R204 miljoen skuld aan die munisipaliteit nie.
Nog ‘n belangrike aspek wat Bannatyne aanraak, is die feit hoe skuld ‘n besigheidsbegroting omvergooi. “As baie persone hul rekenings eers na 60 dae betaal, kan daar nie behoorlik begroot word nie. Daar is ook bewys dat as skuld oor 90 dae gaan, die risiko baie groot is dat jy dit nie sonder die regsroete sal kan verhaal nie,” sê Bannatyne.
Die burgemeester, rdl. David Mutavhatsindi, het die feit dat die munisipaliteit R204 miljoen uitstaande skuld het, teenoor die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging (SBBV) bevestig. Dit was in die konteks van die R4 miljoen in heffings en belastings wat die SBBV volgens hul dispuut met die munisipaliteit terughou.
Die SBBV het in Februarie vanjaar opspraak verwek toe van hulle lede se krag afgesny is, sonder dat die dispuut in aanmerking geneem is en hulle vinnig aksie geneem het. Hulle het ‘n dringende tussentydse hofaansoek gebring om die munisipaliteit te verplig om hul lede se krag aan te skakel. Die munisipaliteit het buite die hof met ‘n skikkingsvoorstel gekom en die krag is aangeskakel. Intussen gaan die hofsaak voort, omdat die munisipaliteit ‘n teenkant geliasseer het.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
