

ADVERTISEMENT:

News Date: 11 June 2012
‘n Begin is gemaak met die randstene in Makhado se Munnikstraat, maar die wenkbroue lig reeds oor die groot gaping tussen die teer en die randstene, asook die hoogte van die randstene.
“Hulle het so lank gevat met die randstene by ons ingang dat ons besigheid verloor het,” sê dr. Freddie Harris van die Blouberg Diereklinkiek. “Toe hulle die randstene uiteindelik insit, is dit so hoog dat die meeste voertuie nie kan inkom nie. Hulle het ‘n klomp grond op die sypaadjie gegooi. Ons eie werkers het dit gelyk gemaak en vasgestamp sodat mense daaroor kan ry,” het Harris gesê.
Verder af in Munnikstraat lê die grondhope nog net so op die sypaadjie langs die randstene.
Ingenieur Pieter Meiring, van die raadgewende ingenieurs Dombo en Du Plessis, het Dinsdag gesê dat daar in gedagte gehou moet word dat die werk nog nie afgeteken is nie. “Waar daar veranderings gemaak moet word, moet dit gemaak word. Elke geval sal op sy eie hanteer word,” het Meiring gesê in reaksie op die randstene wat klaarblyklik te hoog is.
Meiring het beklemtoon dat die gaping tussen die teer en die randstene met teer opgevul moet word. Daar is egter tans probleme met die subkontrakteur wat vir die randstene verantwoordelik is. “Ons weet nie of dié spesifieke subkontrakteur die werk gaan deursien nie. Op die oomblik is daar ‘n redelike dispuut met dié subkontrakteur aan die gang,” het Meiring gesê.
Intussen het ‘n potensiële subkontrakteur die raadgewende ingenieurs genader en gesê hy kan die werk aan die randstene in twee weke klaarmaak. Meiring het aan hom gesê dat hy sy prys aan die kontrakteur moet deurgee, want die besluit lê nie by die raadgewende ingenieur nie.
In Andersonstraat is die randstene ‘n eerste keer ingesit voordat die pad geteer was en op so ‘n manier dat die pad te nou was.
“Met die straatwydte in Andersonstraat het ons voorstelle aan die munisipaliteit gemaak, maar dit wat beplan was en dit wat gedoen is, was nie dieselfde nie. Dit het ‘n effek gehad op die program en ook op die tydsduur daarvan,” het Meiring gesê. Die randstene is toe weer verwyder.
Intussen lê hoë grondhope in die middel en westekant van Andersonstraat, met randstene wat orals daarop gestrooi lê. Volgens die ingenieur sal slegs die randstene wat nog bruikbaar is, gebruik word en sal die hope grond mettertyd gelyk gemaak word.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
