

ADVERTISEMENT:

News Date: 01 November 2002
LOUIS TRICHARDT – Twee mans wat met kru taal daarop aangedring het dat 'n inwoner haar voordeur in die middel van die nag vir hulle moet oopmaak om 'n brief te ontvang, het Dinsdag (22ste) vir mev. Antoinette Pieters 'n paar benoude oomblikke besorg.
Mev. Pieters is om 00:30 wakkergemaak deur die geblaf van haar maltese poedeltjie, Spokie. Die vreemde paneelwa wat sy deur haar venster kon sien, het haar alreeds onraad laat bemerk. Die middernagtelike besoekers buite haar voordeur het gesê dat hulle 'n brief van die bank kom aflewer. Mev. Pieters het teenwoordigheid van gees behou en geantwoord: "Hierdie tyd van die nag? Skuif dit onder die voordeur deur."
Vervolgens het die twee mans haar begin vloek en haar swetsend beveel om die deur oop te maak, waarop sy hulle verseker het dat niemand in die lewe van vandag en in hierdie land sommer net 'n deur oopmaak nie.
Toe hulle steeds aanhou swets, het sy gesê dat sy die polisie gaan skakel. Die mans het haar vir 'n rukkie nog getreiter en toe die brief onder die deur deurgestoot en die hasepad gekies.
Instede van die polisie, het mev. Pieters haar ouderling en sy vrou geskakel. Mnr. en mev. Rex en Esta Jefferies het onverwyld gekom en haar vir skok en asemnood behandel. Dinsdagmiddag was dit vir mev. Pieterse nodig om mediese behandeling te ondergaan.
Teen Woensdag (23ste) het die bankgroep bevestig dat hulle 'n agentskap, NN Projects van Benoni, gehuur het om briewe af te lewer. Die brief aan mev. Pieterse het 'n kennisgewing bevat wat handel oor die opgradering van 'n stoporder as gevolg van die verhoging van rentekoerse. Die bankgroep was uiters geskok oor die wyse waarop die aflewering hanteer is. Die bankbestuurder van Polokwane het haar persoonlik om verskoning kom vra vir haar ongerief en haar gevra om haar mediese rekening aan te stuur.
Die eienaar van NN Projects, het erken dat sy werknemers op daardie laat uur by mev. Pieterse 'n brief afgelewer het. Hy was skynbaar egter minder geneë om verskoning aan te bied vir hulle onmanierlike gedrag. Hy het telefonies aan mev. Pieterse gesê dat sy manne 'n groot area het om te dek. Aan mev. Pieters se werkgewer het hy klaarblyklik genoem dat dit net sekere mense is wat so 'n tipe werk sal aanvaar.
Mev. Pieters het 'n skriftelike verskoning van die maatskappy geëis vir die twee mans se gure optrede, asook skriftelike verskonings van die mans self oor hulle onmanierlikheid. Sy het ook hulle name aangevra.
'n Een-sin apologie is aan haar gefaks, waarin op Engels apologie aangebied is vir die laat uur waarop sy besoek is. Dit was verkeerdelik aan mej. Pieters van Mokopane geadresseer. Daar was egter geen apologie rakende die kru taal en swak optrede van die mans nie. Sy het ook nie die name van die mans of 'n verskoning van hulle kant ontvang nie.
Na nog 'n beswaar van mev. Pieters aan NN Projects, het sy 'n brief ontvang waarin gekonstateer is dat die mans sê dat hulle nie gevloek het nie.
"Goeie genugtig, kan die eienaar van dié Randse maatskappy nie sorg dat sy mense opleiding ontvang in menseverhoudinge nie?" aldus mev. Pieters. Voorts sê sy dat die mans Afrikaanssprekend was en dat elke sin wat hulle gebesig het 'n string vloekwoorde bevat het.

ADVERTISEMENT:
