ADVERTISEMENT:

 

Opgradering van N1 geblameer vir toename in ongelukke

 

News  Date: 25 October 2002

 

LOUIS TRICHARDT – Ongelukkigheid is deurlopend aan die toeneem rondom die klaarblyklike slakkepas waarteen opgradering- en konstruksiewerk aan die N1-noord tans plaasvind.

Konstruksiewerk aan die eerste twee fases van die opgraderingsprojek het reeds in Junie vanjaar begin, maar die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap beoog om eers in Junie 2003 die projek te voltooi. Die eerste twee fases behels die seksie van die N1 vanaf Louis Trichardt tot by Masekwaspoort en vanaf Masekwaspoort tot by die 70 kilometer merk na Musina. Volgens aanvanklike beplanning sou dié seksies van die N1 teen Desember vanjaar klaar gewees het. Wat die seksie van die N1 vanaf die 70 kilometer merk tot in Musina betref, sal die projek volgens huidige beplanning eers in Junie 2004 voltooi word.

Uit bogenoemde is dit duidelik dat padgebruikers tussen Louis Trichardt en Musina nog vir etlike maande die ongerief van wagperiodes en verleggings sal moet verduur. Tans kan motoriste 'n gesamentlike wagperiode van 45 minute verwag.

Alhoewel almal die nodigheid van die opgradering van die N1-noord insien, spreek al hoe meer padgebruikers en sakelui in Louis Trichardt sowel as Musina hul ongelukkigheid uit oor die manier waarop die projek hanteer word. Die situasie word as onuithoudbaar en totaal onaanvaarbaar bestempel. Daarbenewens het die hoeveelheid ongelukke op die N1-noord tot in Musina sedert die begin van die projek dramaties die hoogte ingeskiet.

"Met die tempo van ongelukke op die N1-noord moet 'n mens dit terugwerk na geldwaarde en uitwerk wat dit in lewensverlies kos. Hoekom stop die staat nie hierdie tipe konstruksie nie? Ek voel hulle moet teruggaan na die ou ompadstelsel," aldus mnr. Brink Schlesinger, sakeman van Louis Trichardt.

Mnr. Schlesinger sê dat baie van die ongelukke toegeskryf kan word aan die frustrasie wat padgebruikers op die pad ervaar. Dit, sê hy, gee daartoe aanleiding dat motoriste ongeduldig raak en ongelukke veroorsaak. Selfs in gevalle waar voldoende waarskuwingstekens by verleggings aangebring word, het mnr. Schlesinger bygevoeg, dam die verkeer so vinnig op dat die agterste voertuie of vragmotors nie betyds die tekens kan sien nie. Mnr. Schlesinger sê dat daar baie opsies is vir die aanbring van ompaaie. Hy het ondermeer verwys na die ou Messina-pad wat dalk weer oopgestel kan word. Of die opsie van ompaaie 'n werklikheid sal word, blyk skraal te wees, aangesien daar nie voor begroot is in die projek nie.

Sedert Mei vanjaar is 44 ongelukke op die N1-noord by die plaaslike brandweer aangemeld. Dit is net ongelukke wat in Makhado Munisipale gebied val en sluit nie die ongelukke in Musina se omgewing in nie. Baie van die ongelukke het óf by 'n verlegging óf in 'n verlegging plaasgevind. Vragmotors blyk die grootste probleem te wees. Altesaam ses mense het reeds gesterf terwyl tientalle beseer is. Met die Desember-vakansie om die draai, verwag nood- en reddingspersoneel ook 'n verdere styging in die hoeveelheid ongelukke. Hul grootste kopseer is egter die drastiese verhoging in verkeersvloei wat verwag word met die sonsverduistering op 4 Desember. Derduisende besoekers en uitlanders sal vir dié geleentheid op Musina toesak.

Die Nasionale Padagentskap het reeds aangedui dat hulle van voorneme is om op padgebruikers se griewe te reageer. Weens praktiese probleme kan hulle egter eers in volgende week se uitgawe van die Zoutpansberger antwoord.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines