

ADVERTISEMENT:

News Date: 25 October 2002
LOUIS TRICHARDT – Ongelukke op die streek se paaie het sedert verlede Donderdag die lewe van een persoon geëis, terwyl talle in die hospitaal opgeëindig het vir mediese behandeling.
Die grootste van die ongelukke het Donderdagaand (17de) plaasgevind naby die Witvlag-aansluiting op die N1 na Musina.
'n Vragmotor, wat vanaf Musina op reis was, se remme het ingegee, waarna dit van agter met 'n bakkie gebots het. Die bakkie het op sy beurt teen 'n tweede bakkie voor hom vasgejaag, waarna die tweede bakkie van agter met 'n sedan gebots het. Die sedan is in die proses teen die veiligheidsreling vas, terwyl die tweede bakkie omgeslaan het. Die vragmotor en die eerste bakkie het die pad verlaat en saam teen die berg af getuimel. Nood- en reddingsdienspersoneel was oomblikke later op die toneel en het vir 'n geruime tyd gesukkel om die passasier in die bakkie wat saam met die trok teen die berg af is, uit te sny. Wonder bo wonder is niemand in die ongeluk dood nie.
Vrydag het 'n ongeluk naby Bandelierkop die lewe geëis van 'n jong korporaal van LMB Louis Trichardt, nadat sy trompop onder 'n vragmotor ingejaag het. Drie dae later, naby waar Donderdagaand se ongeluk plaasgevind het, is daar weer 'n sedan teen die berg af. Die bestuurder van die voertuig het klaarblyklik te vinnig afgepyl op die verkeerslig by een van die talle verleggings en kon nie betyds stop nie. Dié seksie van die pad was ook Dinsdagoggend die toneel van nog 'n ongeluk toe 'n minibus-taxi naby die tweede Witvlag-afdraaipad teen 'n wal gebots het.
Mnr. Nico Theunissen van die plaaslike brandweer het motoriste versoek om versigtig te bestuur, veral met die oog op die komende Desembervakansie. Hy het veral padgebruikers op die N1-noord versoek om ag te slaan op pad- en waarskuwingstekens.

ADVERTISEMENT:
