ADVERTISEMENT:

 

Jong korporaal sterf in motorongeluk

 

News  Date: 25 October 2002

 

LOUIS TRICHARDT – 'n Jong korporaal van Lugmagbasis Louis Trichardt, kpl. Marlize Jessen, is Vrydag (18de) op slag dood in 'n gru-ongeluk naby Bandeleirkop. Sy was ten tye van die ongeluk onderweg na haar ouers vir 'n besoek.

Die ongeluk het omstreeks 14:00 plaasgevind toe die 23-jarige kpl. Jessen trompop met 'n aankomende vragmotor gebots het. Oomblikke van te vore het sy skrams met 'n ander aankomende voertuig gebots, waarvan sy die kantspieëltjie afgery het. Alhoewel niemand weet wat presies gebeur het nie, beweer die bestuurder van die vragmotor dat kpl. Jessen skuins vooroor geleun het in haar voertuig. Hy sê dat hy het haar probeer waarsku deur sy ligte te flits en toeter te blaas, maar sonder sukses. Oomblikke later het sy reg van voor onder die vragmotor ingejaag. Die geweld van die impak het kpl. Jessen se voertuig tot teenaan die agterste sitplek vergruis. Sy is op slag dood. Die vermoede bestaan dat sy dalk bewusteloos kon wees voor die ongeluk.

Kpl. Jessen was sedert September vanjaar werksaam by 515 Veiligheids Eskader op LMB Louis Trichardt. Sy het haar loopbaan in die verdedigingsmagte aanvanklik begin as lid van die weermag, waarna sy aansoek gedoen het vir 'n betrekking in die lugmag. Kpl. Jessen was veral 'n bekende gesig by die basis se hoof ingang en het gou 'n integrale deel geword van die Eskader se dag tot dag bedrywighede.

Kpl. Jessen word oorleef deur haar ouers en twee broers op Brits. Sy is Donderdag (24ste) tydens 'n semi-militêre begrafnis op Brits begrawe. Van haar vriende en kollegas van 515 Eskader het intussen hul meegevoel uitgespreek teenoor haar naasbestaandes.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines