

ADVERTISEMENT:

News Date: 25 October 2002
LOUIS TRICHARDT – Bekende plaaslike modeontwerper, Lialize Bezuidenhout, sal eerskomende Vrydag haar nuutste unieke skepping, 'n rok wat uit mopaniewurmsy gemaak is, aan die Suid-Afrikaanse mark bekend stel as deel van die televisieprogram Pasella.
Lialize is deur Pasella genader om 'n rok te ontwerp en te maak van die mopaniewurmsy wat by African Silks in Graskop verwerk word. Pasella se kameraspan het haar toe by SanBonani op Hazyview afgeneem saam met haar ontwerpersrok van sy en 'n onderhoud met haar gevoer. In dieselfde program vertoon hulle ook die systowwe en syprodukte van African Silks.
Lialize vertel dat die kokonnetjies van die mopaniewurms van Namibië af ingevoer word, omdat daar nie tans 'n binnelandse verskaffer is nie. Op Graskop word die sy dan gespin en geweef in verskillende teksture. Dit word ook gekleur. Lialize het die roomkleure en aardse bruine daar gesien.
"Daar is 'n paar stappe wat gevolg moet word wanneer jy met hierdie sy werk. Dit is baie los geweef en vir 'n meer gestruktureerde voorkoms, gebruik ek aanstrykvoering en binnevoering. Aanvanklik het ek 'n balrok in my geestesoog gesien wat mooi gedrapeer is. Toe die materiaal egter by my opdaag, het ek my laat lei deur die klein hoeveelheid daarvan en 'n ontwerp met meer struktuur gekies. Die verskaffers is gelukkig in hulle noppies met die eindproduk," aldus Lialize.
Die rok bestaan uit drie roomkleur panele van verskillende teksture. Volgens Lialize dra 'n syproduk baie gemaklik aangesien die materiaal kan "asemhaal."
Pasella het van Lialize te hore gekom toe hulle sowat twee maande gelede 'n program oor Louis Trichardt beplan het. Sy het 'n portfolio ingestuur, maar daarvan vergeet, aangesien die skiet van die program deur die mat geval het. Twee weke gelede het Pasella haar gekontak met hul versoek.
Lialize Bezuidenhout, wie se studio net buite die dorp op die Elimpad geleë is, het by die Gordon Flack-Davison Fashion Academy in Johannesburg studeer. In haar tweede studiejaar het sy die jaarlikse kompetisie van die SA Fashion Week in Sandton gewen. Daarna het die organiseerders haar elke jaar uitgenooi om 'n reeks te kom vertoon. Lialize het al drie maal reekse daar vertoon.
"Hierdie jaar het ek gevoel dat ek 'n bietjie rus nodig het, maar volgende jaar sal ek seker weer 'n reeks gaan vertoon."
Om 'n bietjie weg te breek, gaan sy eersdaags vir ses weke 'n voltydse Veldgids kursus deurloop.
"Ek is 'n bosmens en my kop staan nie oorsee toe nie. Ek het reeds om daardie rede van die stad af hierheen gekom."
Lialize verkies om die uitrustings waarvan sy die ontwerp en die patrone skep, self te maak ook.

ADVERTISEMENT:
