

ADVERTISEMENT:

News Date: 15 June 2012
‘n Rare versameling werkende stoommodelle is nog vir oulaas in Makhado te sien.
Weens gebrek aan uitstalruimte skenk die eienaar, oom Hansie Uys (83), hierdie waardevolle versameling aan sy seun in die Kaap.
Enige iets wat met stoom werk, het oom Hansie nog altyd gefassineer. “Soos menige knaap het ek ook gedroom om ‘n treindrywer te word. Ek het nie by daardie kleintyd droom uitgekom nie, maar begin om modelstoomenjins te versamel en ook self te bou. Hulle tel nou al meer as ‘n paar honderd,” sê Oom Hansie, wie se vol lewe ook draaie gemaak het in boerdery, elektrisiënwerk, joernalistiek en die uitsaaiwese. Nog een van sy vele talente is die maak van pragtige staanhorlosies. Dié staan naby vertoonkaste met speelgoedmodelle en die imponerende stoommodelle.
Om die stoommodelle van naderby te sien as die vertoonkasdeure oopgaan en asem op te hou soos wat die stories ontvou, is ‘n belewenis. Oom Hansie en sy eggenote, Tannie Corrie, nooi belangstellendes uit om dit te kom meemaak voordat die versameling die dorp oor ‘n klompie maande verlaat. Van die modelle dateer sover terug as 1932.
Vanmelewe is stoom gebruik om skepe en motors te laat voortbeweeg. Agter die Soutpansberg het boere ook destyds stoom waterpompe vir hul boorgate gebruik. Hier ná 1945 het die pompe op kragparaffien begin loop. Die modelle wat oom Hansie van dié stoom waterpompe gebou het, is akkurate replikas, net sowat 15 maal kleiner as die oorspronklike.
Een van sy gunsteling modelle wat hy op vindingryke wyse met die hand en met masjinerie gebou het, is ‘n stoompadroller. Die voorste wiel van die padroller is twee kanonpatroondoppe wat Oom Hansie inmekaar gedraai het. Die wiele is groot metaal silinders wat hy op 'n draaibank kleiner gemaak het. Binne in die naaf van elke wiel is ‘n prop van ‘n petrolwa vanaf Zimbabwe, wat oom Hansie gekoop en kleiner gedraai het. Die skoorsteen is die brander uit ‘n laboratorium. Soos al die modelle, werk hierdie een ook.
Een van die grootste en waardevolste modelle wat Oom Hansie aangekoop het , is ‘n model wat in 1936 in Australië ‘n eersteprys op ‘n model ingenieursskou ontvang het en. Dit is vandag sowat R20 000 werd.
Oom Hansie se belangstelling en versamelgier het hom in verbinding met ander stoomgeesdriftiges van oor die wêreld gebring. Hy het artikels vir ‘n model ingenieurstydskrif in Engeland geskryf . ‘n Mede-entoesias in Australië het so ‘n artikel gelees, hom opgespoor en kosbare tydskrifte aan hom geskenk.
Dele van modelenjins of hele enjins kan uit Engeland ingevoer word in voltooide vorm, halfpad voltooi of net die onderdele. Dit kan meer as R10 000 kos. ‘n Ou stoom brandweerwa, kompleet met klok en fluitjie, is een van die modelle wat oom Hansie uit Engeland ingevoer het. So ook die modelle van ‘n sportmotor wat met stoom aangedryf word en ‘n sirkustrekker met liggies, ‘n model van die ware Jakob wat destyds die sirkustoerusting in Engeland van dorp na dorp geneem het.
Van Oom Hansie se versamelstukke, soos sy modeltreine, is al vroeër jare per veiling verkoop. Hy is, te verstane, hartseer dat hy binnekort nie meer elke dag sy geliefde versameling stoommodelle onder oë sal hê nie.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
