

ADVERTISEMENT:

News Date: 15 June 2012
Twee voormalige polisiemanne wat verbonde was aan die SAPD op Makhado sal nou in die hof moet antwoorde verskaf op aantygings van korrupsie en diefstal.
Dié twee, Freddy Mashudu Makananise (49) en Aubrey Tabashe (30), het Maandag in die Streekhof op Makhado verskyn op klagte van motordiefstal, korrupsie en regsverydeling.
Hulle het in 2010 saam met twee ander verdagtes, Gilbert Shamano Mudau (42) en Vusi Regionald Mothibela (26), verskyn op klagte van gewapende roof en menseroof. Dié mans is daarvan verdink dat hulle op 17 April 2010 ‘n waaghalsige roof uitgevoer het by M Premjee & Son in Makhado. Na bewering sou die mans dié betrokke dag drie sekuriteitsbeamptes op die sakeperseel oorrompel en vasgebind het.
Tydens die roof het een van die verdagtes ‘n polisiebaadjie aangehad, met die ander twee wat na bewering geklee was in uniforms van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW). Honderde duisende rande se rekenaars is tydens die roof gebuit. Die winkelkluis is ook oopgebreek en ‘n groot bedrag kontant is daaruit gesteel.
Mudau en Tabashe is kort na die voorval in hegtenis geneem, nadat beeldmateriaal hulle na bewering in die omgewing van die misdaadtoneel geplaas het. Hulle het destyds R25 000 in borggeld betaal. Pas nadat hulle op borg vrygelaat is, is hulle op nog ‘n klag van motordiefstal, as't ware op die hof se trappe, in hegtenis geneem.
Dit is op hierdie klag wat Makananise en Tabashe nou moet kom verduidelik. Die klag hou verband met ‘n Mazda bakkie wat Makananise na bewering by ‘n Dennis Derrick Zulu gekoop het, maar nie betaal het nie. Zulu het getuig dat hy sy geld by Makananise geëis het, waarop hy [Zulu] summier in hegtenis geneem is op ‘n klag van diefstal.
Beide mans is kort na hul hofverskyning geskors sonder betaling, hangende ‘n dissiplinêre verhoor. Hulle saak is ook verskeie kere uitgestel en later voorlopig teruggetrek sodat verder ondersoek ingestel kon word.
Dit is glo vanuit hiérdie ondersoek dat die klag van korrupsie spruit. Volgens die klagstaat wat Maandag by die hof ingedien is, het Makananise en Tabashe na bewering R6 000 van Zulu ontvang om sy dossier te laat “verdwyn”.
Makananise en Tabashe se prokureur, Desmond Mphaphuli, het Dinsdag bevestig dat hy namens sy kliënte ‘n dagvaardiging teen die Minister van Veiligheid en Sekuriteit uitgereik het. Hulle eis R2 miljoen in skadevergoeding van die minister. Mphaphuli is van mening dat die polisie sy kliënte verkeerdelik gearresteer het in 2010.
Makananise en Tabashe se saak is Maandag uitgestel tot 27 en 28 Augustus vir verhoor.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
