ADVERTISEMENT:

 

Nog slordig, maar motoriste kan ry! Menige inwoner juig omdat Stubbsstraat weer in gebruik is en hulle makliker oor die N1 kan beweeg.

Vreugde ná strate weer oopgestel word

 

News  Date: 18 June 2012

 

Menige inwoner jubel noudat  van die dorp se strate, veral dié wat baie verkeer dra, geteer en oopgestel is vir motoriste om te gebruik.

Teen Dinsdag het amptenare van die Makhado Munisipaliteit saam met mnr. Pieter Meiring van die raadgewende ingenieurs Dombo en Du Plessis die strate gaan bekyk. “Die munisipale manne het darem al weer geglimlag toe hulle sien die strate is geteer. Wat belangrik is, is dat die strate nou gebruik kan word,” het Meiring gesê. Almal was met reg bekommerd dat die strate nie betyds vir die groot Kremetart fietswedren op 9 Junie gereed sou wees nie.

Die afgelope week is ook heelwat van Polokwane Surfacing (Hillary Construction) se voertuie opgemerk waar hulle vertroue by die publiek ingeboesem het deur vinnig en skynbaar deeglik te werk. Daar word gevra hoekom inwoners so lank wanorde in hulle strate moes verduur as sekere maatskappye wel vinnig en akkuraat kan werk en goeie projekbestuur kan toon.

Stubbsstraat, wat een van die enigste drie toegangsroetes oor die N1 is wat die oostelike en westelike gedeeltes van die dorp verbind, was lank toegemaak. Dit het verkeersopeenhopings en baie ekstra kilometers in ompaaie vir motoriste beteken, om nie eers te praat van inwoners en sakepersone wat die josie in was omdat hulle nie toegang tot hulle persele kon verkry nie.

As antwoord op klagtes het die raadgewende ingenieurs, Dombo en Du Plessis, gesê dat hulle opdrag aan die kontrakteur, Fantique Trade, gegee het om die pad in halfwydtes klaar te maak en dus altyd 'n laan oop te hê. Dit het egter nie gebeur nie en die straat is sommer in die geheel omgedolwe.

'n Bron na aan die projek het inligting verskaf oor waarom die seëllaag van die pad so vinnig kon geskied. Die kontrakteur het die seëlwerk aan die groot maatskappy gesubkontrakteer, wat ook die vervaardiger is van die asfalt waarmee geteer word. Die kontrakteur moes na bewering vanaf 25 Mei laatboetes betaal. Volgens die bron het die kontrakteur ná die subkontrak waarskynlik nie veel wins gemaak op die projek nie. Die kontrakteur was nie bereid om met die media te praat nie.

Andersonstraat was nog 'n groot kopseer, met die swaar verkeer wanneer kinders heen en weer skooltoe vervoer moes word. Dié projek het in September verlede jaar begin en moes in Januarie vanjaar voltooi gewees het. Die Makhado Munisipaliteit het egter die kontrakteur se eerste twee betalings laat betaal.

Die bindlaag van Andersonstraat is vir 'n tweede keer gedaan gery en die inwoners het sleg tweede gekom met die verskriklike stof. “Tot heel agter in my tuin, die heel verste van die straat af, is die plante oortrek met stof,” het mnr. Schalk Grobbelaar van Andersonstraat verlede Woensdag gesê. Ander inwoners het begin siek word van die stof.  Agt maande na die aanvang van werk aan hierdie kort stukkie straat is die teerwerk uiteindelik gedoen.

Almal is verheug dat die strate gebruik kan word, maar gaan dit nou weer sloer met die skoonmaak en afronding? “Die skoonmaak kan partykeer amper 'n groter werk wees. Ek vertrou dat die meeste werk, indien nie alles nie, teen die einde van Junie klaar sal wees,” het Meiring gesê. Hy het genoem dat daar dan werk volg in Grobler-, Devenish- en Presidentstraat en afronding in Waterbessie-, Protea- en Elandstraat.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines