ADVERTISEMENT:

 

Die wrak van mnr. Brink Schlesinger se Bell Jet Ranger III helikopter waar dit tot stilstand geskuur het, slegs drie meter vanaf die sowat 100m-hoë afgrond in die agtergrond. Foto verskaf.

Net drie meter skei hulle van die dood

 

News  Date: 18 June 2012

 

Slegs drie meter het hulle geskei van ‘n gewisse dood.

Sakeman en vlieënier mnr. Brink Schlesinger van Makhado het Woensdag vertel van die dramatiese frats vliegongeluk wat hy en drie passasiers verlede Vrydag omstreeks 13:00 op die kruin van ‘n hoë koppie naby Swartwater wonderbaarlik oorleef het.

“Dit was eerder 'n sitongeluk as vliegongeluk,”  het Schlesinger geskerts. Hy het egter geen illusies oor juis hoe gelukkig hulle was om die ongeluk te oorleef het nie.

Schlesinger het Vrydag drie tegnici van Pretoria, mnre. Leon du Plessis, Tom Venter en Pierre Tiersma, na die koppie opgevlieg om ‘n radiomas te gaan herstel.

Ná ‘n inspeksievlug het Schlesinger met sy Bell Jet Ranger III helikopter ingekom om te land. Schlesinger het geland, die helikopter gestabiliseer en was in die proses om die krag na die turbine te verminder toe ‘n skielik rukwind van tussen 30 en 60 kilometer per uur die helikopter se rotorlemme opgeruk het.

“Ek het gehoor hoe skuur die helikopter se landingsslee agteruit op die klippe … Jy kan niks doen nie, want jy kan nie vinnig genoeg die enjin weer krag gee nie,” het Schlesinger gesê.

Die rukwind het die helikopter 180° agteroor gedruk, waarna dit omgeslaan en op die sy te lande gekom het. In die proses is die rotorlemme afgeslaan. Die wrak van die helikopter met sy vier insittendes het daarna  wonderbaarlik tussen ‘n jong rotsvyboompie en ‘n rotswand ingewig, skaars drie meter vanaf ‘n sowat 100m-hoë afgrond.  Was dit nie vir dié boompie en rotswand nie, is Schlesinger seker hy en sy passasiers sou 100m na hul dood getuimel het.

“Onmiddellik na die ongeluk het ek eers uitgevind of iemand beseer is. Dit was maar hoofsaaklik ligte kneusplekke en skrape en ek het almal beveel om die helikopter te ontruim,” het Schlesinger gesê. Sy grootste vrees in daardie stadium was ‘n moontlik brand, aangesien die helikopter se turbine steeds geloop het. Ná hy dit afgeskakel het en die nodige dokumente uit die helikopter verwyder het, het hy ook na veiligheid gevlug.

Gelukkig vir die viermanskap was daar selfoonontvangs op die koppie en kon hulle Burgerlugvaart en die polisie van die ongeluk inlig. Met hulp op pad, het die tegnici ten spyte van die ongeluk steeds voortgegaan om die radiomas te herstel.

“Ons moes daarna sowat 2km teen die styl koppie af sukkel na die teerpad, waar ons ontmoet is,” het Schlesinger gesê.

“Ek is dankbaar om te leef, maar dit is steeds hartseer om so afskeid te neem van ‘n helikopter wat jy sedert 1983 besit. Die ironie is dat ek pas ‘n loods op my plaas gebou het waar ek die helikopter na Vrydag se vlug sou stoor,” het Schlesinger gesê. Die verder ironie, het hy gesê, is dat hy ‘n dag voor die ongeluk die helikopter se versekeringswaarde met R500 000 verminder het.

“Vrydagoggend bel hulle my en sê ‘n stormwind het meer as R50 000 se skade aan my huis op Skuitbaai in die Kaap aangerig. Kan jy glo dat wind, van die een uithoek van Suid-Afrika na die ander, op een dag ook die helikopterongeluk kon veroorsaak het?”

Oor die ongeluk self het Schlesinger gesê dat baie mense sekerlik sal vra waarom hy in die sterk rukwinde van Vrydag besluit het om te vlieg. “Dit is nie ‘n nuwe ding wat ek gaan probeer het nie. Ek is opgelei daarvoor en dis heeltemal binne my en die helikopter se vermoë. Wat Vrydag gebeur het, was niks anders as ‘n fratsongeluk nie,” het Schlesinger gesê.

Van die Soutpansberg se inwoners sal onthou dat Schlesinger ook in Oktober 1987 ‘n vliegongeluk oorleef het, nadat hy met dieselfde helikopter naby Kutama neergestort het. Die helikopter is na die tyd weer herbou. Oor die helikopter se lot na Vrydag se ongeluk het Schlesinger gesê hy dink die versekering sal dit hierdie keer afskryf. Teen druktyd moes die wrak nog vanaf die koppie gehys word.

“Ons was meer as gelukkig,” het Schlesinger gesê.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines