ADVERTISEMENT:

 

generic image

Selfmoord is nie die antwoord nie

 

News  Date: 25 June 2012

 

Die onlangse dood van drie inwoners wat hul eie lewens geneem het, het weer die kwessie van selfmoord in die ope gebring.

Die Zoutpansberger het ná die tragiese gebeure met ‘n paar kundiges oor dié moeilike onderwerp gaan praat.

Volgens me. Erna Eloff van die SAVF is dit onrusbarend dat selfmoord nie net toeneem nie, maar ook ‘n “aansteeklike” uitwerking op ‘n groep of gemeenskap kan hê. Sy meen een selfmoord of selfmoordpoging gee dikwels aanleiding tot ‘n volgende.

Plaaslike berader me. Hester Beukes het in antwoord hierop gesê dat dit belangrik is om te onthou dat ‘n persoon wat selfmoord oorweeg, net met liefde en begrip gehelp kan word. Volgens haar moet mens verstaan dat dit wat die persoon glo die oorsaak van sy toestand is, weinig kere die werklikheid of waarheid is.

“Hulle oortuig hulself dat hulle lewens nie die moeite werd is om mee voor te gaan nie, en dat die mense wat agterbly nie sal omgee as hulle nie meer daar is nie,” het Beukes gesê.

Beukes sê depressie is soos ‘n swembad wat groen word en, as jy nie dadelik aandag gee aan die “wanbalans” nie, gaan die swembad net al hoe groener word.

“Onthou, depressie word veroorsaak deur ‘n probleem. As ‘n persoon nie die probleem kan hanteer nie, word dit ‘n algemene ding wat jou emosies oorheers. As so ‘n persoon dan nie hulp kry nie, oorheers die probleem sy of haar lewe,” sê Beukes. Beukes beveel aan dat so ‘n persoon omring moet word met liefde, begrip en, belangrikste van als, ‘n netwerk van geestelike ondersteuning.

Volgens kenners is daar ‘n paar tekens om op die uitkyk te wees by persone wat moontlike selfmoordneigings het. Dit sluit in:

* Ernstige depressie.

* Onttrekking van familie en vriende en die samelewing.

* ‘n Skielike verandering in slaap- en eetgewoontes (abnormale afname of toename in voedselinname).

* Onvermoë om te konsentreer en onvermoë om stil te sit.

* Verwaarlosing van persoonlike netheid.

* Persoonlikheidsveranderinge, soos byvoorbeeld skielike aggressie of stilstuipe.

* Gemaskerde depressie kan ook voorkom waar iemand homself as ‘n nar voordoen.

* Misbruik van drank, dwelms en verdowingsmiddels.

* Verloor belangstelling in iets wat voorheen uiters belangrik was, soos byvoorbeeld in ‘n troeteldier.

* Begin om persoonlike besittings weg te gee.

* Dreigemente van selfmoord.

* Kla gereeld van fisiese simptome soos hoofpyn, rugpyn ensovoorts.

* Veral mans begin fanaties raak oor hoë-risiko sport, ry ‘n onverskillige spoed en bestuur onder die invloed van drank. Dit kan bewuste of onbewuste selfmoordgedrag wees.

* Vordering na ‘n tydperk van depressie – nou het die persoon meer energie om die daad te doen. Persone met depressie se gemoedsverandering kan van positief na negatief verander binne oomblikke.

* ‘n Ware ongeluksvoël – op hierdie manier kan hulle aandag kry.

* Maak onverskillige grappe oor die dood en selfmoord.

* Sê reguit dat hul selfmoord gaan pleeg of sê dat hul nie meer wil leef of dat die wêreld ‘n beter plek sonder hulle sal wees.

* Sensasiesoekers en tieners wat deelneem aan hoë-risko gedrag. Talle “ongeluk” sterftes is in werklikheid gemaskerde selfmoord.

Kenners waarsku egter dat dit belangrik is om te onthou dat nie almal wat hierdie tekens openbaar of aan depressie ly selfmoord pleeg nie, maar dat die tekens mens bedag behoort te maak op geliefdes se behoeftes en hulle diep emosionele pyn wat hul nie noodwendig kan deel nie.

“Wees realisties met jouself en kry hulp vóórdat jy nie meer lewenskrag het om jou probleme te oorkom nie,” het Beukes gesê. Sy kan by tel. 015 516 2355 geskakel word vir meer inligting.

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines