

ADVERTISEMENT:

News Date: 18 October 2002
LOUIS TRICHARDT – 'n Misverstand ten opsigte van die konsolidasie en registrasie van serwitute in die laat tagtigerjare op vyf "munisipale" standplase, asook die Raad se versuim om 'n munisipale klousule ten opsigte van die aanvanklike verkoop van die standplase toe te pas, veroorsaak tans ietwat van 'n verleentheid vir die Makhado Munisipaliteit.
Die vyf standplase in gedrang is geleë aan die suidekant van die industriële area met die De Wet Familie Trust as houer van die kaart en transport. In April vanjaar is 'n kontrak vir die koop van die vyf erwe onderteken deur 'n plaaslike besigheidsman, mnr. John Struwig, met die oog op ontwikkeling.
Mnr. Struwig het na die ondertekening van die koopkontrak, met gepaardgaande bankwaarborge begin met onder meer die betaling van oordragkoste, hereregte en uitklaringskostes by die munisipaliteit. Daarna het hy die dokumentasie aan sy prokureur oorhandig vir die registrasie van die standplase op sy naam.
Die Aktekantoor het egter mnr. Struwig se dokumentasie teruggestuur met 'n versoek dat hy toestemming tot afstanddoening van terugvalsreg vanaf die Raad moet bekom. Die terugvalsreg het te make met 'n klousule dat 'n gebou of struktuur binne drie jaar op die perseel opgerig moes word en indien nie, die Raad die opsie het om terugvalsreg uit te oefen of afstand te doen daarvan. Geen gebou is egter opgerig nie en die Raad het ook nooit toegesien dat die klousule toegepas word nie.
Mnr. Struwig se prokureur het toe aansoek gedoen by die Raad vir afstanddoening van terugvalsreg. Onder normale omstandighede sou daar nie 'n probleem wees met afstanddoening nie, maar in hierdie geval het die Raad skielik 'n krisis in die gesig gestaar.
In die laat tagtigerjare was daar 'n raadsbesluit dat die vyf standplase in gedrang, gekonsolideer moet word en serwitute geregistreer moet word. Weens een of ander rede is die besluit klaarblyklik nooit uitgevoer nie. Die Raad was egter onder die indruk dat die persele aan hulle behoort en het voortgegaan met die bou van 'n riool-pompstasie op die perseel. Die oprigting van die riool-pompstasie, wat onder meer Makhado Park en die nuwe maksimum sekuriteits gevangenis bedien, was egter onwettig, aangesien die grond nie aan die Raad behoort het nie. Tot op hede is daar ook nooit serwitute deur die Raad op die grond geregistreer nie.
Met die besef dat hulle 'n fout gemaak het, wil dit voorkom asof die Raad nou hul terugvalsreg wil uitoefen as ontsnappingsklousule. Hul weiering om afstand te doen van hul terugvalsreg beteken ook dat die hele kooptransaksie nie afgehandel kan word nie. Sou die Raad wel hul terugvalsreg uitoefen, beteken dit dat beide De Wet Familie Trust en mnr. Struwig finansiële skade sal ly.
Die afgelope week is daar herhaaldelik gepoog om inligting rondom die aangeleentheid vanaf die Raad te bekom. Verlede week is die Zoutpansberger meegedeel dat die aangeleentheid as uiters sensitief beskou word, maar dat die Uitvoerende Komitee Dinsdag (15de) 'n besluit sou neem oor die aangeleentheid. Daar was ook 'n belofte dat inligting oor die saak Woensdag aan die koerant beskikbaar gemaak sal word. Dit het nie gebeur nie. Daar is egter verneem dat die kwessie later die maand voor die Raad sal dien vir besluitneming en optrede.

ADVERTISEMENT:
