ADVERTISEMENT:

 

Dié lemmetjiesdraad by Desert Dove Sekuriteit was skaar 'n dag op toe inbrekers dit geknip het.

Vlaag inbrake laat sakelui moedeloos

 

News  Date: 29 June 2012

 

Die aanhoudende vlaag van inbrake en diefstalle in die industriële area van Makhado het plaaslike sakelui moedeloos.

Veral ondernemings in die omgewing van Kortstraat word gereeld geteiken deur misdadigers. Voorkomende maatreëls om die ongewenste “besoekers” uit te hou, is ook nie altyd so suksesvol nie, soos blyk in die geval van Desert Dove.

Eienaar André de Beer moes verlede Vrydag vir die soveelste keer die polisie uitroep, nadat daar weer by sy perseel in Kortstraat ingebreek is. Lemmetjiesdraad wat hy bo-op sy sesvoet muur en rondom die perseel gespan het, was nie genoegsaam nie. De Beer het dit net die vorige dag laat toespan. “Hier word ten minste twee keer ‘n maand ingebreek,” sê De Beer.

Die vermoede bestaan dat die rowers dalk onwettige plakkers is wat in ‘n vervalle huis agter De Beer se perseel woon. Volgens mnr. Theyman Jongbloed van Jan’s Autoworkshop, wat die perseel deel met Desert Dove, het die inbrekers al verskeie kere ook by hulle werkswinkel ingebreek en duisende rande se onderdele en gereedskap gesteel. “Gelukkig,” vertel hy, “was die venster waarby hulle ingebreek het te klein, anders het hulle my kompressor ook weggedra.”

Jongbloed vertel dat hulle al spore gekry het van ‘n kruiwa, waarin die inbrekers klaarblyklik gesteelde goedere oor hulle perseel gestoot het, tot agter by die muur. Van hier is die goedere én die kruiwa oor die muur gegooi, weer in die kruiwa gelaai en na die huis gestoot. Dit was voordat die lemmetjiesdraad opgesit is.

Beide De Beer en Jongbloed is dit eens dat die misdadigers wat hulle teiken ook ander omliggende besighede besteel. “Die mense hier is al moeg vir die alewige inbrake,” het De Beer gesê.

Die plaaslike polisie, meen hulle, behaal ook nie veel welslae om die misdadigers vas te vat nie. Daar kan glo nie ‘n klopjag op die huis en onwettige plakkers uitgevoer word nie, want daar is niemand gedurende die dag by die huis nie.

Nog ‘n besigheid, laer af in Kortstraat, BG Truck & Tractor, het Maandag De Beer se gevoelens beaam. Nie net was hulle ook al per geleentheid die slagoffers van dié misdadigers nie, maar moes hulle al twee geliefde troeteldiere afstaan weens vergiftiging. Volgens Nettie Geerdts van BG Truck & Tractor vermoed hulle dat die katte wat vergiftig is, goed geëet het wat bedoel is vir die omliggende besighede se waghonde.

“Watter besigheid kan só voortbestaan?” het Geerdts gevra. 

Plaaslike polisiewoordvoerder kapt. Maano Sadike kon teen Dinsdag nie bevestig hoeveel soortgelyke inbrake deur die polisie ondersoek word nie.

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines