

ADVERTISEMENT:

News Date: 18 October 2002
LOUIS TRICHARDT – Vandale het weer toegeslaan en hul vernielsug op 'n verkeersteken en straatnaamborde uitgeleef.
'n Waarskuwingslig is opgerig om verkeer wat in 'n oostelike rigting in Stubbstraat beweeg, te waarsku van die aankomende kruising by die N1.
"Hierdie lig is nou vir die sesde keer uitgeruk. Die padteken staan nog, maar die lig hang aan sy drade," aldus mnr. Willie Scheepers. Hy is die hoof van Makhado Munisipaliteit se afdeling vir Binnestedelike en Buitestedelike Konstruksie en Instandhouding, 'n sub-departement van die Elektriese Afdeling. Mnr. Scheepers sê dat die paal nou gelig gaan word sodat vandale nie sonder moeite hulle verwoestingswerk kan aanrig nie.
Buiten die gebreekte flikkerlig, is daar ook skade aangerig aan beide straatnaamborde aan weerskante van die N1/Stubbstraat-kruising. Die verligte naamborde is stukkend gegooi of gekap, moontlik met swaar voorwerpe.
Mnr. Martin Luus, Assistent Bestuurder van Verkeer en Lisensies van die plaaslike munisipaliteit, sê dat vandalisme in 'n baie ernstige lig beskou word.
"'n Beloning van R500 word uitgeloof aan die persoon wat inligting verskaf wat lei tot die inhegtenisname van die oortreders," sê mnr. Luus. Hy het bygevoeg dat 'n verhoging in vandalisme dikwels saamval met sekere tye, soos byvoorbeeld die matriekafskeid.
Die oprigting van verligte naamborde is met die Raad se toestemming uitgekontrakteer aan privaatinstansies. Vandalisme aan naamborde by N1-kruisings word aan die Suid-Afrikaanse Nasionale Pad Agentskap gerapporteer.
Mnr. Reuben Rambado, Munisipale Bestuurder van die Makhado Munisipaliteit, het die week die voorvalle veroordeel.
"Daar is geen nodigheid vir mense om soos straatboewe op te tree nie. Mense moet verder onthou dat dit hulle eie geld is wat gemors word," sê mnr. Rambado.

ADVERTISEMENT:
