ADVERTISEMENT:

 

Esther Nel se Landrover, waar dit teen ´n boom te lande gekom het op die hoek van Munnik- en Bredastraat. Foto verskaf.

Vrou ernstig ná botsing by "swak gemerkte" kruising

 

News  Date: 29 June 2012

 

“Ek kon sien dat sy in baie groot pyn moes wees”.

Só het mnr. Freddie de Swardt vertel oor die byna noodlottige botsing vroeg Vrydagoggend, 22 Junie, by die kruising tussen Munnik- en Bredastraat in Makhado. Die ongeluk waarin mev. Esther Nel (45) veelvuldige beserings opgedoen het, het reg voor De Swardt plaasgevind.

Volgens Esther se eggenoot, Louis, was sy op pad werk toe, toe die ongeluk plaasgevind het.

“Die een oomblik was haar kar nog voor my en die volgende oomblik was sy nie meer daar nie,” het De Swardt aan die Zoutpansberger gesê. Esther het in ‘n westelike rigting in Bredastraat gery.

De Swardt onthou hoe die voertuig wat Esther vol op haar voordeur getref het, net skielik, “asof uit die niet”, verskyn het. Hierdie voertuig was in ‘n noordelike rigting op pad. Die impak het Esther se voertuig amper om die oorkantste stopteken gevou.

Esther was binne haar voertuig se wrak vasgepen en De Swardt sê hy kon duidelik sien sy het baie seer gekry. Die bestuurder van die ander voertuig was ongedeerd. Hy was glo, volgens De Swardt, erg arrogant met omstanders wat wou weet waarom hy nie gestop het nie.

Esther is, nadat sy uit die wrak bevry is, na die Limpopo MediClinic in Polokwane gehaas, vanwaar sy oorgeplaas is na die hoësorgeenheid van die Eugene Marais Hosptiaal in Pretoria. Buiten ‘n rugwerwel en haar bekkenbeen wat Esther gebreek het, was dokters ook erg bekommerd oor die hoeveelheid inwendige bloeding wat sy opgedoen het weens die ongeluk.

Teen Sondag het dit darem al beter gegaan en kon Esther oorgeplaas word na een van die gewone hospitaalsale. Louis het Dinsdag gesê hulle wag nog dat daar ‘n rugstut vir Esther gemaak word, sodat die gebreekte rugwerwel kans gegee kan word om self weer aan te groei. Volgens hom sou Esther teen Woensdag of Donderdag hierdie week ontslaan word.

Intussen het Esther se ongeluk talle inwoners opnuut weer die harnas in gemaak.

Afgesien dat feitlik niemand meer in Makhado by stoptekens stop nie, is Munnikstraat onlangs vanaf Stubbsstraat tot net bokant Bredastraat nuut oorgeteer en kon die munisipaliteit weke later nog nie daarin slaag om waarskuwingslyne daarop te verf nie. Inderdaad was daar geen waarskuwing dat verkeer in Munnikstraat by die kruising moet stop nie, behalwe ‘n lae stopteken wat nie duidelik sigbaar is nie.

Plaaslike polisiewoordvoerder kapt. Maano Sadike het by navraag bevestig dat hul voorlopige ondersoek oor die oorsaak van die ongeluk wys dat die bestuurder van die voertuig wat teen Esther gebots het nie gestop het nie “weens die swak-gemerkte kruising.” Sadike kon teen druktyd ook nie bevestig of gerugte waar is dat die bestuurder wat nie gestop het nie slegs ‘n leerlingrybewys gehad het.

In antwoord oor waarom daar nog nie waarskuwingslyne op die pad geverf is nie, het munisipale woordvoerder  mnr. Louis Bobodi gesê dit is omdat “die pad nog in die proses is om klaar opgeknap te word". Intussen het hy inwoners en motoriste versoek om maar “geduldig te wees terwyl hulle bestuur”.

Louis Nel het ná die ongeluk almal bedank wat hom, Esther en haar familie bygestaan het, hetsy deur telefoonoproepe, SMS'e of morele ondersteuning.

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines