

ADVERTISEMENT:

News Date: 02 July 2012
Belastingbetalers wat lid is van die SBBV gaan nou elkeen elke maand ‘n individuele dispuut met die Makhado Munisipaliteit moet verklaar.
Elke maand sal elke lid van die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging ‘n persoonlike dispuutvorm met die munisipaliteit oor ‘n spesifieke bedrag onderteken. Hierdie bedrag is die lid se eiendomsbelasting. As die lid se eiendom byvoorbeeld teen R1.5m gewaardeer is, is sy dispuutbedrag R1037.50, dit wil sê 0.069% van die waardasiebedrag. Een van die hoofpunte van die dispuut wat die SBBV in 2008 met die munisipaliteit verklaar het, gaan juis rondom die waardasieproses wat nie volgens die regte prosedures gedoen is nie.
Met sowat 300 dorpe in die land wat dispute met hul munisipaliteite verklaar het of besig is om te verklaar, is dit ‘n nuwe veld waarop beweeg word en is die hofsake dikwels toetssake. Dit het duidelik geword dat ‘n algemene dispuut oor verskillende aspekte nie meer voldoende is nie, en moet ‘n dispuut gaan oor ‘n spesifieke bedrag.
Sal dit dan nou die munisipaliteit weerhou om lede se elektrisiteitsvoorsiening af te skakel?
Kenners verskil in hul interpretasie hiervan. Mnr. Jaap Kelder, voorsitter van die Nasionale Belastingbetalersunie (NBU), sê dat wanneer die lede se dispuutverklarings in orde is, dit die munisipaliteit behoort te weerhou om krag af te sit. Kelder verwys na die Cullinan-saak van Steve Kloppers teen die Tshwane Munisipaliteit, waar die regter beslis het dat die dispuut eers opgelos moet word.
Ander meen weer dat ‘n munisipaliteit die krag kan afsit as hulle bywette vir kredietbeheer en skuldinvordering in orde is en verwys na die Kroonstad-saak van Rademan teen die Moqhaka Munisipaliteit, waar die appélhof uispraak gegee het dat die krag afgesit kan word. Kelder sê dat daar eers gewag moet word tot die konstitusionele hof uitspraak gee.
Intussen het die Makhado Munisipaliteit die nodige bywette gepromulgeer in die Limpopo Provinsiale Gazette volume 19, nommer 2085.
“Die munisipaliteit het hul bywette oor kredietbeheer en skuldinvordering op 14 Junie gepromulgeer,” het mnr. Johann Hammann (senior) van die prokureursfirma Hammann en Moosa Ingelyf hierdie week gesê. Die interpretasie daarvan kan wees dat die munisipaliteit die geld wat oorbetaal word na goeddunke kan allokkeer en dan by magte kan wees om krag af te skakel volgens die wet op munisipale strukture.
In Januarie en Februarie vanjaar het die munisipaliteit SBBV lede se krag afgeskakel, waarna die SBBV aansoek gedoen het vir ‘n dringende tussentydse hofaansoek om die munisipaliteit te verplig om die krag weer aan te sluit. Hulle het die aansoek gebring ten opsigte van twee van hul lede. Voordat die saak op 3 Februarie in die Noord-Gauteng Hooggeregshof in Pretoria sou dien, het die munisipaliteit met ‘n skikkingsvoorstel gekom wat deur die SBBV aanvaar is. Die kragvoorsiening is dieselfde dag herstel. Totdat die hof uitspraak gee, moet die krag herstel bly, hoewel dit tegnies verwys na die krag van die twee lede. Intussen het die munisipaliteit die mosie van die SBBV teengestaan, waarna die vereniging repliek gelewer het. Die saak word op die bestrede rol geplaas. Sover bekend is daar nog nie ‘n hofdatum nie.
“Ons saak word dus bevestig. Toe die munisipaliteit die krag afgesny het, het geen bywette bestaan nie. Die saak gaan voort met die vorige ‘geen bywet’ situasie,” het die voorsiiter van die SBBV, me. Inga Gilfillan, op 25 Junie gesê.
Kort voor druktyd het die munisipale woordvoerder, mnr. Louis Bobodi, gesê dat die bywette wat in plek gekom het, beteken dat die munisipaliteit in staat sal wees om skuld in te vorder. Bobodi is gevra wat gebeur met die skuldinvordering by die buitedorpe en gebiede.
“Ons gaan die inkomste vergroting (revenue enhancement) strategie implementeer en ons skakel met al die rolspelers om hulle aan te moedig om te betaal. En ons maak vordering,” het Bobodi per e-pos gesê. Hy het egter nie die vraag beantwoord oor watter persentasie van die uitstaande skuld van die buitedorpe afkomstig is nie.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
