

ADVERTISEMENT:

News Date: 18 October 2002
LOUIS TRICHARDT – Drie van die vyf verhoorafwagtende misdadigers, wat verlede week vanuit die polisieselle op Louis Trichardt ontsnap het, is weer terug agter tralies.
Die vyf misdadigers, William Ramaloko (29), Leonard Mukwevho (25), Tshivhidzo Lifuka (28), Charles Mutina (26) en Daniel Nemaitoni (19), het verlede Woensdag omstreeks 03:00 die traliedeur voor hul sel oopgesaag, waarna 'n gat in die polisieselle se dak gekap en uitgeklim het. Ramaloko is aangekeer op 'n klag van gewapende roof, terwyl Mukwevho en Mutina gearresteer is op klagte van verkragting. Lifuka en Nemaitoni was verhoorafwagtend op klagte van onderskeidelik huisbraak en diefstal.
Kort na hul ontsnapping het lede van die polisie 'n leidraad ontvang wat gelei het tot die arrestasie van een van die ontsnaptes se eggenote, die twintigjarige Mashudu Lifuka. Tydens ondervraging het Mashudu erken dat sy 'n ystersaaglem, wat versteek was in 'n toegevoude koerant, vir haar man, Tshivhidzo, gegee het tydens 'n besoek. Sy het egter beweer dat sy nie daarvan bewus was dat haar man sou probeer om te ontsnap nie.
Tshivhidzo Lifuka is later dieselfde dag by sy huis op Dzanani aangekeer. Hy het op 10 Oktober in die plaaslike landdroshof verskyn waar hy skuldig bevind is op 'n klag van huisbraak. Hy is derhalwe tot tien jaar gevangenisstraf gevonnis, sonder die keuse van 'n boete. Sy vrou het op 11 Oktober in die hof verskyn op klagte dat sy verhoorafwagtende misdadigers uit wettige aanhouding help ontsnap het. Haar saak is uitgestel na 7 November vir verdere verhoor.
Dieselfde dag as Mashudu Lifuka se verskyning in die hof, is inligting ontvang dat nog 'n voortvlugtende, Daniel Nemaitoni, hom op 'n plaas in die Levubu-omgewing bevind. Hy is kort daarna aangekeer. Twee dae later (13de) is Leonard Mukwevho op Giyani vasgetrek. Nemaitoni en Mukwevho het op 15 Oktober in die plaaslike landdroshof op klagte dat hulle uit wettige aanhouding ontsnap het verskyn. Hul saak is uitgestel tot 12 November.
Teen druktyd was die polisie steeds op soek na die oorblywende twee voortvlugtendes, Ramaloko en Mutina.

ADVERTISEMENT:
