

ADVERTISEMENT:

News Date: 06 July 2012
Wanneer munisipale rekenings te hoog is, wil die meeste mense dit dadelik uitgesorteer hê. Maar hoe nou gemaak as die rekening te min is?
“Help, ek betaal te min!” is nie iets wat ‘n mens baie hoor nie, maar mnr. Joggie Pieterse (73) van Herfsakker in Makhado is een inwoner wie se munisipale rekening nie die korrekte elektrisiteitsverbruik reflekteer nie en wat gevolglik te min betaal.
“Ek kan hulle los tot hulle hulle eie fout agterkom, maar dan moet ek alles gelyk betaal. Ek is afhanklik van ‘n ouderdomspensioen van R1 200 en kan nie skielik ‘n reusebedrag vir elektrisiteit betaal nie. Dit is die eerste keer in die ses jaar wat ek hier woon, dat ek probleme kry,” sê Pieterse.
Pieterse is in Februarie laas aangeslaan vir elektrisiteitsverbruik. Sedertdien wil dit voorkom asof sy meter op die laaste lesing vasgeslaan het.
‘n Besoek aan Bires, die maatskappy wat die meterlesings vir die Makhado Munisipaliteit doen, het ‘n dokument opgelewer wat die korrekte lesings van Maart tot Junie aandui, nadat die meter in Maart oorgeslaan het. Oom Joggie het hierdie dokument plus afskrifte van die rekenings gemaak en vir die munisipaliteit geneem. Hy was trouens meer as een keer daar. Beloftes van munisipale amptenare dat hulle na hom sou terugkom, is nie nagekom nie.
“Nou weet ek nie meer waar om hulp te kry nie,” het oom Joggie gesê. Ten einde raad het hy ‘n brief aan die burgemeester laat aflewer en ook die Zoutpansberger genader. Die burgemeester, rdl. David Mutavhatsindi, het aan die koerant gesê dat hy vir seker die rekening sal laat ondersoek.
Munisipale woordvoerder mnr. Louis Bobodi is op 28 Junie van die saak in kennis gestel en vrae is aan hom gestel. Op 3 Julie het Bobodi telefonies laat weet dat die sisteem by die finansiële afdeling sedert die oggend buite werking was en dat hy nog nie antwoorde kon verskaf nie. Hy het onderneem om so gou moontlik antwoorde te gee.
Die hoop op vinnige reaksie wanneer die munisipaliteit 'n paar verlore rande kan inhaal, het beskaam. Die burgemeester het ook nie geantwoord nie. Intussen kos dit die bejaardes geld, moeite en stres om hul probleme opgelos te kry. ‘n Ander pensioenaris, wat nie geïdentifiseer wil word nie, het gesê dat sy R60 uitgebel het om die probleme op haar munisipale rekening te probeer regstel. Die foute op haar rekening het haar skoon siek gemaak, sodat sy moes gaan lê.
“Al wat ek vra is ‘n korrekte en volledige rekening elke maand. Soos dit nou is, is dit onaanvaarbaar,” het dié pensioenaris gesê.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
