ADVERTISEMENT:

 

Die hoofkontrakteur sê dat hy nie bewus is van die slordige hoop bourommel op die hoek van Stubbs- en Munnikstraat nie en dat hy ondersoek sal moet instel.

Strate geteer, maar bourommel bly seeroog

 

News  Date: 06 July 2012

 

Alhoewel inwoners groot genot put uit die talle nuutgeteerde strate in Makhado, heers daar ook onder hulle groot frustrasie met dié strate se randstene en die opruiming van bourommel wat nie klaarkom nie.

Die datum vir voltooiing van die projek was einde Junie, maar volgens die hoofkontrakteur ry groot probleme met die subkontrakteur die proses in die wiele.

“Twee weke gelede het ons gesien dat die tweede subkontrakteur vir die randstene nie behoorlike werk lewer nie. Hy moes die werk klaargemaak het. Nou moet ons hom uitskop,” het die hoofkontrakteur, Fantique Trade, se eienaar, mnr. Bennie Ncube, op 3 Julie gesê.

Ncube was nog nie seker wie nou die randstene gaan klaarmaak nie. Intussen lê ‘n hoop nuwe randstene in Munnikstraat, waar die randstene skynbaar te hoog is. Die spasie tussen die teer en die randstene moet met teer opgevul word. In Andersonstraat is die stofprobleem gelukkig iets van die verlede, maar die sypaadjies en middelmannetjie is steeds bestrooi met honderde randstene as ‘n stille monument van onafgehandelde werk.

‘n Hoop ou teer lê ook opgestapel by die hoek van Munnik- en Stubbsstraat. Ncube het gesê dat sy mense al skoongemaak het en dat hy nie bewus is van daardie spesifieke slordige hoop nie. “Ek sal moet uitvind wat daar aangaan,” het Ncube gesê.

Nog ‘n faktor wat die spoed van die projek beïnvloed is laat betaling vanaf die kliënt, die Makhado Munisipaliteit, se kant.

“Ons het die betaalsertifikaat voorberei, maar daar is nie nou geld om die hoofkontrakteur te betaal nie. Hy het nie onttrek nie, maar dit het reperkussies. Dit gaan nou net langer vat, want kontantvloei dryf enige besigheid. Hulle gaan nie voort tot hulle betaal word nie. Hulle sal hopelik volgende week betaal word,” het mnr. Pieter Meiring van die raadgewende ingenieurs, Dombo en Du Plessis, Dinsdag gesê. Junie was die einde van die munisipaliteit se finansiële jaar.

“Die boekjaar se einde is nou verby en dalk kry ons nou weer vooruitgang. Die kontrakteur moet nog skoonmaak. Daar is nog groot werke uitstaande by Presidentstraat, die randstene van die drie onlangs-geteerde strate en die verf van die strate. ‘n Mens kan verstaan dat die hoofkontrakteur ook net een keer die verwers wil inkry om al die verfwerk te doen,” het Meiring gesê.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines