

ADVERTISEMENT:

News Date: 11 October 2002
LOUIS TRICHARDT – Die N1-noord moes Woensdag vir die soveelste keer die afgelope paar maande vir verkeer gesluit word, na nog 'n gru-ongeluk waarin drie vragmotors betrokke was.
Die ongeluk het omstreeks 04:20 plaasgevind by een van die talle padverleggings sowat 30 kilometer vanaf Musina.
Volgens ooggetuies het twee vragmotors, onder weg na Musina, by die verlegging gestop en gewag dat die verkeerslig vir hulle moet groen word. Intussen het 'n derde vragmotor, wat in dieselfde rigting op reis was, die verlegging genader. Die bestuurder van dié vragmotor was klaarblyklik nie bewus van die verlegging nie en het gepoog om die twee vragmotors gelyktydig verby te steek.
Kort nadat die verkeerslig groen geword het, het die twee stilstaande vragmotors voor die aankomende vragmotor in die teenoorgestelde verkeersbaan inbeweeg. In hierdie stadium was dit reeds te laat vir die bestuurder van die derde vragmotor om spoed te verminder. Hy het sekondes later op spoed met die twee voorste vragmotors gebots.
Die geweld van die impak het die middelste vragmotor se sleepwa die lug ingeslinger, waarna dit in die teenoorgestelde rigting te lande gekom het. Die kajuit van die derde vragmotor is met bestuurder en al afgeruk en het onder sy eie sleepwa te lande gekom. Die gewig van die sleepwa het die kajuit tot 'n plat massa staal gefrommel. Die bestuurder is op slag dood.
Nood- en reddingspersoneel het kort na hul aankoms op die toneel die pad vir verkeer gesluit. Die pad was vir etlike ure gesluit, terwyl wrakstukke verwyder is en diesel van die padoppervlakte opgeruim is. Dit was die soveelste ongeluk op die N1-noord die afgelope paar maande waarby vragmotors betrokke was. Minder as 'n maand gelede is drie mense dood in 'n ongeluk waarby daar ook drie vragmotors betrokke was. Dié ongeluk het slegs 'n paar kilometers vanaf Woensdagoggend se ongeluk plaasgevind.

ADVERTISEMENT:
