

ADVERTISEMENT:

News Date: 06 July 2012
‘n Sakevrou van Makwassie wat daarvan beskuldig word dat sy glo verskeie boere se geld verduister het, het verlede Donderdag in die Louis Trichardt Distrikshof verskyn.
Die 38-jarige Helena Catharina de Swardt het verskyn op twee klagte van bedrog. Sy is op 18 Junie vanjaar aangekeer, nadat sy na bewering onderskeidelik R40 000 en R45 000 van twee boere in die Alldays-omgewing gesteel het.
De Swardt het haarself glo as ‘n agent van Groenland Voere voorgedoen en boere geskakel om lusern by haar te koop. Sodra die boere die geld in haar bankrekening betaal het, het sy glo in die niet verdwyn, sonder om die lusern af te lewer.
'n Uitgevatte De Swardt het op 28 Junie vlugtig voor die hof verskyn. Haar saak is egter uitgestel om die polisie geleentheid te gee om dit verder te ondersoek.
De Swardt was hoogs ontsteld toe die Zoutpansberger 'n foto van haar geneem het terwyl sy besig was om die hof te verlaat. Haar regsverteenwoordiger, adv. Leon Vorster, het op sy beurt die koerant se joernalis, asook een van die ondersoekbeamptes, voorgekeer en onder andere beskuldig daarvan dat hulle slegs "sensasie” soek. Vorster het gesê dat die klagte teen sy kliënt steeds net bewerings is en dat hy nog nie eens ‘n saaknommer van die polisie ontvang het nie
De Swardt se saak is uitgestel tot 10 Augustus vanjaar.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
