ADVERTISEMENT:

 

Die 30-jarige Jolene Rossouw.

Enkelma spandeer angsnag in polisieselle

 

News  Date: 09 July 2012

 

‘n Vrou van Makhado het die afgelope week 'n angsnag in die plaaslike polisieselle deurgebring, nadat sy in hegtenis geneem is op 'n klag van bedrog.

‘n Merkbaar-verwese Jolene Rossouw Terburgh (30) het Dinsdag in die Distrikshof in Makhado verskyn. Sy is Maandagmiddag laat by haar huis in hegtenis geneem en summier in die plaaslike polisieselle geboender. Toe Rossouw se prokureur inderhaas ‘n na-uurse borgaansoek probeer bring het, kon die ondersoekbeampte in die saak glo nie opgespoor word nie.

Mnr. Charles Pieterse, Rossouw se prokureur, het Dinsdag gesê hy beskou dit as belaglik dat sy kliënt borg geweier is, maar deur die hof op 'n waarskuwing vrygelaat is. “Wat was dan die doel van die arrestasie gewees?” het Pieterse gevra. “Dit is verregaande dat ‘n enkelma met kinders sommer net in die selle gegooi word.”

Die klag van bedrog wat teen Rossouw gebring is hou verband met ‘n bedrag wat sy na bewering van die Hyundai Motorhandelaar op Makhado gesteel het toe sy daar werksaam was. Sy was sedert 2009 aangestel as die menslike hulpbronbestuurder. Volgens inligting het Rossouw na bewering geld wat veronderstel was om oorbetaal te word aan werknemers se voorsieningsfonds in haar eie sak gedruk. Onraad is vermoed toe 'n werknemer begin kla het dat daar fout is met sy fonds. 

Provinsiale polisiewoordvoerder lt. kol. Ronel Otto het Dinsdagmiddag onderneem om die rede vir Rossouw se nag in die polisieselle te ondersoek, maar het die koerant meegedeel dat die polisie tans onder druk verkeer weens die huidige handboekkrisis wat hom in Polokwane afspeel.

Rossouw se saak is uitgestel tot 17 Augustus vir verdere ondersoek.

Intussen sal nóg 'n vrou van Levubu, die 32-jarige Anna Catharina Mullins, op 17 Julie in die Streekhof verskyn, ook op 'n klag van bedrog. Die klag teen haar hou verband met 'n bedrag van R651 000 wat in 2010 van Madikor 16 verduister is.

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines