ADVERTISEMENT:

 

Kruis se ligte aangeskakel tydens Christusfees

 

News  Date: 11 October 2002

 

LOUIS TRICHARDT – 'n Sonnige Saterdag met volmaakte weersomstandighede het feesgangers dankbaar laat stroom na die Christusfees wat op 5 Oktober by Triegiepark gehou is.

Lofprysing en aanbidding in die vorm van sang en dans het vir meer as ses ure lank die feesgangers se fokus geplaas op Jesus Christus, ter ere van wie die fees gereël is.

Die jong gospel kunstenares, Melanie, het die meer as duisend feesgangers op hulle tone gehou. Sy was veral 'n rolmodel vir die kleiner kinders en tieners.

Die groot aantal plaaslike kunstenaars het getoon dat daar nie alleen 'n diepte aan talent is nie, maar ook 'n groot behoefte aan geleenthede vir optrede. Die groepe wat deelgeneem het was Emmanuel Jeug Orkes, Agapé Koordansgroep, Wings Jeug Dansgroep, die Houtkruis Dansgroep, die Miriam Dansgroep van Messina, die Soutpansberg Laerskoolkoor, die Timothy sangers van die Baptiste Kerk, die Anglikaanse Kerksanggroep, die Royal Macadamia koor van Levubu en die Amazing Grace Praise and Worship-groep van Tshikwerani. Die aand se samesang is afgerond onder leiding van ds. Willem Boshoff.

Drie individuele kunstenaars het van Levubu gekom, te wete Juandri Coetzee, Eldanny Lesar en Sonette Gouws, met Niel van der Merwe van Potgietersrus en Barry Howard van Soekmekaar.

Charl en Cecile, die sangpaar wat van Gauteng ingevoer was, het almal verras met hul uitsonderlike stemme. Die bekende gospelsanger, Willie Joubert, het luister aan die fees verleen met sy aanbiddingsliedere.

Ds. Sampie van Niekerk het die feesgangers deurentyd herinner aan die simboliek van die kruis. Duiwe is vrygelaat om die werk van die Heilige Gees te simboliseer. Die ballonne met die gebedsversoeke was 'n groot aantrekkingskrag vir die kinders. Die opstyg van die ballonne het die gebede wat na God se troon opstyg, gesimboliseer.

Die Christelike Motorfiets Assosiasie het die koppe laat draai met hulle motorfietse. Daarna het hulle gratis koffie- en teestalletjie van vroeg tot laat groot aftrek gekry. Die verversingslokaal is beman deur helpers vanuit feitlik al die verskillende kerke.

Die groot hoogtepunt van die fees was die oomblik toe die kruis se ligte vir die eerste keer aangeskakel is om 19:40. Dit het geskied nadat ds. Pieter Kruger 'n gebed vir al die geestelike leiers van die omgewing gedoen het. Die kruis werk met 'n ligsensitiewe skakelaar en sal saans aangaan as dit donker genoeg is. Soggens sal dit weer afskakel met daglig.

Die organiseerders was heeltemal oorstelp deur die goeie samewerking wat hulle deurentyd van elke deelnemer, werker en feesganger ontvang het. Voor en tydens die Christusfees is 1 800 van die klein wit Perspex kruisies verkoop. Daar is nog kruisies beskikbaar by Kirsten Skryfbehoeftes.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines