ADVERTISEMENT:

 

Dominee Bonnema tree uit bediening

 

News  Date: 11 October 2002

 

LOUIS TRICHARDT – Na vyf-en-twintig vrugbare en deernisvolle jare in die bediening, lê die alombekende ds. Harm Bonnema hierdie week die tuig neer. Hy aanvaar sy emeritaat weens gesondheidsredes en lewer Sondag, 13 Oktober sy afskeidspreek.

Op 3 Desember, 1983 is ds. en mev. Bonnema bevestig in die N.G. Kerk Soutpansberg-gemeente en vanaf 1 April, 1990 was hulle verbonde aan die Louis Trichardt-gemeente.

"Die feit dat Harm vyf-en-twintig jaar lank in die bediening gestaan het, is werklik 'n groot genade," vertel mev. Hannetjie Bonnema.

"In 1980, na drie jaar in die bediening, het die medici hom alreeds afgeraai om hierdie werk te doen."

Ten spyte van gesondheidsprobleme, het ds. Bonnema vasgestaan in sy oortuiging dat sy roeping in die werk van die Here lê. Hy kyk nou terug op 'n bediening waarin die aspekte van barmhartigheid, betrokkenheid by die Christelike Maatskaplike Raad (CMR) en die Christelike Afhanklikheidsdiens (CAD), bejaardesorg, hospitaalpastoraat en pastorale bediening vir hom baie spesiaal was. Menige hospitaalpasiënt van watter denominasie ook al, herroep die oomblikke van opbeurende gebed tydens ds. Bonnema se hospitaalbesoeke.

"Die geestelike groei in die gemeente was vir ons 'n hoogtepunt, maar ons het ook saam met die gemeente hoogtepunte belewe, soos die besigheidskompleks wat gebou is en die uitbreiding aan die geboue. Wat die pastorale bediening betref, was dit altyd my groot vreugde om mense persoonlik te leer ken," vertel ds. Bonnema. Hannetjie was op haar beurt aktief betrokke by die Vrouediens en haar vaardigheid en fyn kunssinnige smaak is goed bekend.

Wat vir die Bonnemas uitstaan is die gemeenskap se liefde en ondersteuning, veral ten tye van ds. Bonnema se gesondheidskrisisse. In 2000 het hy 'n vier-vat hartomleidingsoperasie ondergaan, waarna komplikasies ingetree het en sy sternum (borsbeen) verwyder moes word.

"Die hele gemeenskap oor rekgrense heen, het ons geestelik, moreel en materieël gesteun. Mense van Louis Trichardt, Levubu, en tot sover as Messina en Vivo het ons geskakel, besoek en vir ons gebid," onthou die Bonnemas. Op 23 Oktober moet ds. Bonnema weer 'n knievervanging ondergaan.

Ds. Harm Bonnema sê dat hulle dankbaarheid teenoor die hele gemeenskap groot is en dat hulle beoog om steeds deel van hierdie mooi gemeenskap te vorm. Hannetjie gaan voort met haar eiendomsbesigheid.

"Ons het nie planne om te skuif nie en ons huis en harte is nog altyd oop vir al die vriende en bekendes."

Die egpaar se drie kinders is die 26-jarige Hendrik (getroud met Liezl Bothma), Andorette (24) en Harm Junior (16).

Ds. Harm Bonnema se afskeidspreek vanuit Efesiërs 1 het as tema "Bring die lof aan die Here". Die diens begin om 10:00 in die N.G. Kerk Louis Trichardt-gemeente en almal is welkom om daarna 'n koppie tee in die saal te geniet.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines