

ADVERTISEMENT:

News Date: 13 July 2012
Tannie Anna Seegers, 'n op en wakker lid van Gister-se-Jeugklub in Makhado, is twee maande voor haar 92ste verjaarsdag skielik oorlede.
Tannie Anna, gebore op 4 September 1920, het ‘n paar dae voor haar dood geval en is per ambulans na die privaathospitaal in Polokwane geneem.
“Die dokter het nog gesê dat alles reg lyk, hoewel haar rib gebreek was, maar dat haar hart swak is. Dit was ‘n groot skok toe ek weer daar kom en sy skielik oorlede is voor ek in die saal kon ingaan. Maar ons is so dankbaar. Mammie het saggies aan die slaap geraak en nie weer wakker geword nie. Sy het nie ‘n lang siekbed gehad nie,” sê mnr. Bertus Seegers van Rietvlei, wat sy moeder die laaste 23 jaar by hom in die huis versorg het.
Die Seegers-gesin was al die jare deel van die omgewing en het eers op Levubu, daarna op Tshipise en ook op die plaas Leeudorings op Bandelierkop geboer. As jong moeder het Anna alleen op Levubu geboer vir die drie jaar wat haar man, Jan, in die interneringskamp in Koffiefontein was. Die egpaar het vier kinders gehad.
In 1989 het haar eggenoot haar ontval. Hulle het ook een seun aan die dood afgestaan.
“Ons onthou Mammie as iemand met baie geduld en deursettingsvermoë. Sy was baie min in ‘n hospitaal. Sover sy kon, het sy al die huiswerk self gedoen. Sy het baie min gekla en het altyd ‘n grappie gemaak. Later, toe sy nie meer haar arms kon oplig om self haar hare te versorg nie, het sy een maal per week haarkapper toe gegaan,” sê Bertus. Tannie Anna was klokslag een maal per week by Gister-se-Jeug. Sy was die afgelope ruk die klub se oudste lid.
Wyle Tannie Anna is op 10 Julie vanuit die NG Kerk Louis Trichardt-gemeente begrawe. Sy laat drie kinders, Magriet, Bertus en Jan, vier kleinkinders en vier agterkleinkinders na. Magriet en Jan woon in Pretoria.
Sus Magriet maak spesiaal melding van hulle waardering vir Bertus vir alles wat hy deur die jare vir hul moeder gedoen het. Verder bedank die familie graag ds. Jan Petorius, wat die roudiens waargeneem het, en diegene wat vir verversings en ander aspekte verantwoordelik was, vir me. Maud Myburg vir haar flinke ambulansdiens, Martin’s Begrafnisondernemers en al die lede van Gister-se-Jeugklub.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
