

ADVERTISEMENT:

News Date: 13 July 2012
Moenie net inspring en alles na Makhado verander nie, want ‘n lang hofstryd oor die dorp se naam lê nog voor, waarsku die Voorsittersvereniging (VV).
Die VV waarsku ernstig teen die aangaan van oorbodige en nuttelose uitgawes. Die voortydige implementering van die naamsverandering kan tot R15 miljoen bedra.
“Die saak is nog hangende. Ons doen ‘n beroep op persone en instansies om nie nou veranderings aan te bring nie. Dit kan onnodige kostes meebring en dit is ook goed dat die naam Louis Trichardt in die volksmond bly, terwyl die saak nog hangende is,” het mnr. André Naudé, voorsitter van die VV, gesê.
Die dorp se naam het op 10 Mei amptelik vir die tweede keer van Louis Trichardt na Makhado verander toe die kuns en kultuur minister, mnr. Paul Mashatile, die besware van die VV teen die naamsverandering verwerp het. Mashatile het die naam Makhado op 14 Oktober verlede jaar in die Staatskoerant gepubliseer.
Die VV se lede het op 6 Junie ‘n mandaat gegee dat die saak na die hooggeregshof en, indien nodig, na die appèlhof en konstitusionele hof geneem word. Daar word tans gewerk aan die hersieningsaansoek wat by die Noord Gauteng Hooggeregshof in Pretoria ingedien sal word.
“Ons sê dat die administratiewe handeling van die minister om die naam van Louis Trichardt na Makhado te verander, foutief was. Ons wil die ministeriële besluit nietig laat verklaar. Ons sien die advokaat hierdie week,” het Naudé Dinsdag gesê. Hy verduidelik dat die hooggereghofsaak op stukke beslis word.
“Indien die regter teen ons besluit, neem ons die saak na die appèlhof, waar die saak op getuienis en meriete beslis word. Ek dink ons kans is uitstekend. Ons het byvoorbeeld twee foliobladsye vol vrae aan die ander party gestel en die antwoord was dat hulle nie daar is om ons vrae te beantwoord nie. Hulle het dus geen aandag aan ons versoek gegee nie,” het Naudé gesê.
Na die eerste naamsverandering van die dorp in 2003, het instansies soos SANRAL op hul neuse gekyk en moes dubbele onkostes aangaan om naamborde op paaie terug te verander na Louis Trichardt, nadat die appèlhof in Maart 2007 uitspraak in die guns van die VV gegee het en die dorp se naam weer Louis Trichardt geword het.
Die provinsiale namekomitee wou al drie dae na die tweede publisering in die staatskoerant en nog in die beswaartydperk, onmiddellik alle veranderinge afdwing. “Die komitee sal ‘n reeks vergaderings hou om die implementering van die nuwe naam af te dwing,” het hul woordvoerder, mnr. Peter Moruthane, in ‘n persverklaring van 17 Oktober verlede jaar gesê.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
