

ADVERTISEMENT:

News Date: 16 July 2012
Verskonings, verskonings, maar steeds is daar nie water nie.
Inwoners van Makhado is weer waterloos gelaat, nadat daar ‘n lekkasie ontstaan het op die Albasini pyplyn. Dit aldus ‘n kennisgewing wat die Vhembe Distriksmunisipaliteit Maandag uitgestuur het. Woensdagoggend het munisipale woordvoerder mnr. Louis Bobodi weer op ‘n nasionale radiostasie gesê die huidige waterprobleme kan toegeskryf word aan ‘n verouderde watersisteem.
Dit was nie die eerste keer wat die dorp se waterkrisis nasionale nuus maak nie. Verlede week het die Zoutpansberger berig oor ‘n privaat vragmotor wat drinkwater pomp uit die reservoir in Barnardstraat - iets wat glo gereeld gebeur.
Die Vhembe Distriksmunisipaliteit se woordvoerder, mnr. Ralushai Matodzi, het toe by navraag gesê dit is onwettig vir privaat instansies om water by die dorp se reservoir te pomp. Hy het belowe om die saak verder te ondersoek. Matodzi is weer Maandag en Dinsdag genader om vas te stel hoe hierdie ondersoek vorder. Geen woord is gespreek oor moontlike arrestasies wat gemaak is nie en sy antwoord was maar taamlik afgewater.
Matodzi het aangevoer dat totdat die gemeenskap nie die munisipaliteit begin help om sulke onwettige aktiwiteite te stop nie, sal hulle “altyd basiese dienste geweier word.” Volgens hom word watertoevoer na die dorp onderbreek deur “kriminele wat boorgate en kabels vandaliseer.” Dit is ook blykbaar die rede hoekom daar nie die afgelope week water was nie en nie weens ‘n “lekkasie”, soos hy vroeër in ‘n SMS aan die koerant verduidelik het nie. In sy e-pos sê hy kriminele het die Makhado D-tenk, met sy meegaande boorgat en kabels, gevandaliseer.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
