

ADVERTISEMENT:

News Date: 16 July 2012
Die voortslepende waterkrisis in die Makhado munisipale area duur voort, met die burgerregte-organisasie, Afriforum, wat ook nou tot die stryd gaan toetree en ‘n tak op die dorp gaan vestig om regstappe te kan neem.
Me. Inga Gilfillan, voorsitter van die Soutpansberg Belatingbetalersvereniging, is deur Radio Sonder Grense uitgevra oor die waterkrisis. In ‘n skrywe aan RSG het Gilfillan verwys na die “uiters ellendige, nimmereindigende waterprobleem in Louis Trichardt”.
Gilfillan verwys na die waterprobleem in Makhado, sowel as in Tshikota en in die omgewing van Vuwani, Vleifontein en Dzanani, wat vir die afgelope meer as 60 dae nie watervoorsiening het nie. Die gedeelte van Makhado oos van die N1 sukkel al ten minste die afgelope drie jaar met net ‘n paar uur of geen watervoorsiening per dag.
“Winkelsentrums sluit hul toilette en weier dat kliënte die toilette besoek, want daar is nie water nie. Haarkappers kan nie hare was en sny nie, bakkerye kan nie panne was nie, plekke kan nie higiënies skoonmaak nie, mense kan nie bad nie - die dorp is in ‘n krisis! ” het Gilfillan gesê.
AfriForum het intussen klagtes ontvang oor die munisipaliteit se onvermoë om behoorlike watertoevoer aan die gemeenskap te verskaf en sal op 18 Julie ‘n tak in Makhado vestig, tydens 'n vergadering om 18:30 by die NG Kerk Louis Trichardt-gemeente in Erasmusstraat .
Volgens skedule 4b en 5b van die Grondwet, sowel as die Munisipale Stelselwet (Wet 32 van 2000), is dit die munisipaliteit se plig teenoor die gemeenskap en belastingbetalers om die noodsaaklike diens van watervoorsiening te verskaf.
“AfriForum doen 'n beroep op inwoners om die takstigtingvergadering by te woon, aangesien gemeenskappe wat hande vat met AfriForum, 'n gesaghebbende platform kry om te veg vir hulle basiese menseregte,” sê mnr. Tiaan Esterhuizen, AfriForum se organiseerder in Limpopo. Ná die vestiging van ‘n tak sal dié burgerregte-waghond se regspan onmiddellik opdrag ontvang om stappe teen die munisipaliteit te neem.
Die gebied se wateroutoriteit, die Vhembe Distriksmunisipaliteit (VDM), ontken geensins die erns van die “water uitdaging” nie. “Op bestuursvlak en politieke vlak word die water uitdaging as uiters ernstig beskou,” het die VDM woordvoerder, mnr. Matodzi Ralushai, Dinsdag gesê. Ralushai het gesê dat dit te lank neem om die reservoirs vol te kry en al word daar ook nou gepomp, sal die watervoorsiening nie by al die areas uitkom nie. Hy het verwys na die groeiende druk op watervoorsiening as gevolg van die groot groei in die distrik en die baie nedersettings wat bygekom het.
Die veroudering van die pypleidings is die ander probleem. “Alle infrastruktuur het vervanging of herstel nodig. Die pype bars net altyd en het ‘n klein kapasiteit,” het Ralushai gesê.
Op ‘n vraag of hulle nie die veroudering voorsien het nie, het Ralushai gesê dat hulle heeltemal bewus is daarvan, aangesien hulle die pype buite herstel en dan sien dat die pype baie oud is. “Sommige pype is meer as 20 jaar oud,” het Ralushai gesê.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
