ADVERTISEMENT:

 

Basis wen stryd vir nuwe vegvliegtuie

 

News  Date: 04 October 2002

 

LOUIS TRICHARDT – Die Suid-Afrikaanse Lugmag se besluit om beide die Hawk- en Gripen-vegvliegtuie op LMB Louis Trichardt te stasioneer, en nie by LMB Hoedspruit nie, het die afgelope week gemengde reaksie ontlok.

Die besluit om die twee vliegtuie onderskeidelik in 2006 en 2008 na Louis Trichardt te skuif, is geneem na 'n lang dog deeglike besluitnemingsproses. Van die aspekte waarna gekyk is, het ingesluit ligging, operasionele oorwegings ten opsigte van die plasing van beide vliegtuie, opleidingsfasiliteite, logistieke vermoëns en mannekrag. In meeste gevalle het Hoedspruit en Louis Trichardt goed opgeweeg teen mekaar, maar dit was veral ten opsigte van kostebesparing wat die besluitnemingsproses in die guns van LMB Louis Trichardt geswaai het. 'n Algehele opgradering van die infrastruktuur op LMB Louis Trichardt werk ongeveer die helfte goedkoper uit as die koste-implikasie van so 'n opgradering by LMB Hoedspruit.

Die bevelvoerder van LMB Louis Trichardt, brig-genl. Willie Hartogh, het Woensdag gereageer op onsekerhede wat ontstaan het na aanleiding van mediaberigte ten opsigte van die besluit. Hy het weer die versekering gegee dat die besluit geneem is na deeglike inagneming van alle moontlike faktore. Hy het ook genoem dat die besluit uit die aard van die saak baie positief is vir LMB Louis Trichardt en sy mense.

Wat die kwessie betref rondom Hoedspruit se personeel, het brig-genl. Hartogh gesê dat daar 'n mate van onsekerheid bestaan by individue oor hul spesifieke toekoms. Hy het dit egter benadruk dat die Suid-Afrikaanse Lugmag die migrasie van personeel en uitrusting ernstig sal aanspreek met inagneming van individuele sowel as organisasie behoeftes. Die huidige komponent van personeel op LMB Louis Trichardt, sê brig-genl. Hartogh, sal behou word aangesien die basis oor 'n baie bekwame werksmag beskik. In teenstelling hiermee, sê hy, sal daar wel 'n beperkte aantal personeel van LMB Hoedspruit in Louis Trichardt se werksmag geakkommodeer word. In hierdie stadium, sê brig-genl. Hartogh, word dit voorsien dat die aantal behuising op die basis vir die huidige genoegsaam sal wees en minimaal in die toekoms uitgebrei sal word.

Brig-genl. Hartogh het ook verwys na die moontlike sluiting van 19 Eskader. 'n Ondersoek in dié verband moet nog geloods word en die plasing van hetsy 19 Eskader of dan 'n vleuel van 17 Eskader op Hoedspruit of Louis Trichardt, moet nog bepaal word.

Een van die probleme wat geïdentifiseer is ten opsigte van die besluit om die Gripen en Hawk op Louis Trichardt te stasioneer, was die kwessie rondom 'n moontlike watertekort. Brig-genl. Hartogh het gesê dat die probleem aandag geniet en dat daar reeds samesprekings was met die Departement van Openbare Werke en die Makhado Munisipaliteit. 'n Waterpypleiding word in die vooruitsig gestel wat in beide die basis en in Sinthumule se behoeftes sal voorsien.

Brig-genl. Hartogh het dit weer benadruk dat LMB Hoedspruit nie gesluit sal word nie. Die basis word steeds geag as 'n nasionale bate wat ten alle koste behou moet word as 'n operasionele basis. Die basis sal steeds gebruik word deur die Suid-Afrikaanse Lugmag, sowel as buitelandse groepe vir operasies.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines